
Voerkrale se syfers lyk deesdae beter danksy hoër karkas- en laer mieliepryse nadat hul somme voorheen moeilik geklop het, sê mnr. Ulrich Müller, tegniese bestuurder van Voermol. Müller was 'n spreker op die Voermol-boeredag op mnr. Heinrich Bruwer, Voermol se Beesboer van die Jaar vir 2016, se plaas Lovedale by Vryburg.
'n Beesvoerkraal begin met 'n speenkalf van sowat 220 kg, wat tot op ongeveer 440 kg gevoer word. 'n Duimreël is om die kalf se gewig te verdubbel. Teen 'n hoë mielieprys is dit moeilik om dan wins te maak. Baie kalwers word egter eers op die veld uitgegroei, kom op 'n hoër gewig in die voerkraal en word dus vir 'n korter tydperk gevoer.
In die 120 dae wat 'n speenkalf normaalweg in die voerkraal deurbring, vreet hy sowat 1,2 ton voer bestaande uit 200 kg konsentraat, 880 kg mielies en 120 kg hooi. Mielies word moeilik met hooi vervang en hooi maak dus nie juis 'n bydrae nie. Die konsentraat vul die proteïen aan.
Die konsentraat
Baie boere met plaasvoerkrale produseer hul eie mielies en speenkalwers en voeg so waarde toe. Die hoogste insetkoste is die kalf (64%), gevolg deur konsentraat en ruvoer (30%) en prosessering, staankoste, vrektes en bemarking (6%).
Wins word deur drie faktore bepaal, naamlik die prys van die speenkalf, vleis en mielies. Die speenkalfprys moet 65% laer as die vleisprys wees om wins te maak en 1 kg vleis moet meer as 12 kg mielies kan koop.
Wins staan op twee bene, naamlik voer- en aankoopmarge. “As dit goed gaan, is die voermarge positief, maar die aankoopmarge is altyd negatief. Jy betaal dus meer as die waarde van die speenkalf, maar hy groei daarna. As die kalf teen R28/kg aangekoop word, bedra dit is dit R6 160. Om gelyk te breek, moet hy 70 dae in die voerkraal bly. Dan is daar nóg 50 dae oor om wins te maak.