
Die batebestuursmaatskappy Futuregrowth het ’n groot belegging gemaak in die Kaapstadse onderneming Inseco, wat swart soldaatvlieë gebruik om voerprodukte te produseer.
Mnr. Amrish Narrandes, hoof van ongenoteerde ekwiteit by Futuregrowth, sê die belegging strook met die maatskappy se filosofie vir verantwoordelike belegging.
“In teenstelling met tradisionele proteïenbronne het insekproteïen ’n inherent laer omgewingsimpak omdat die proses voedselvermorsing regstreeks verminder, minimale kweekhuisgasvrystellings behels, beperkte watergebruik het en geen bewerkbare grond nodig het nie.”
Insekproteïen het volgens hom verder baie goeie voedingswaarde sodat voeromsettingskoerse hoër is, vergeleke met tradisionele proteïenbronne.
Narrandes sê in ’n inligtingstuk wat hy en me. Ayanda Bolani, beleggingsontleder by Futuregrowth, geskryf het, dat Inseco in Februarie vanjaar $5,3 miljoen (R84 miljoen) nodig gehad het in een van die grootste aansoeke om saaikapitaal in Suid-Afrika se geskiedenis.
Futuregrowth het deur sy ontwikkelingsekwiteitsfonds as die leidende belegger deelgeneem. Dit strook met sy toenemende toespitsing daarop om in innoverende en volhoubare inisiatiewe oor die hele landbouwaardeketting te belê, veral in dié wat ’n gunstige uitwerking op die planeet het.
Inseco skakel laewaarde- organiese byprodukte om in hoëgehalte-proteïen, olies en kunsmis. Sy vlagskipprodukte, EntoMeal en EntoOil, is voedsame en volhoubare alternatiewe tot konvensionele produkte soos vismeel en visolie, met ’n duidelike opbrengs vir die omgewing.
Insecto verskaf tans produkte aan die plaaslike akwakultuur-, troeteldiervoer- en pluimveemark.
Die maatskappye beoog om na die res van Afrika, Europa en Amerika uit te brei en gaan die belegging gebruik om sy vervaardigingskapasiteit te verhoog en voortgesette navorsing en ontwikkeling te finansier.
Mnr. Simon Hazell, uitvoerende hoof van Inseco, beskou insekboerdery as die perfekte oplossing vir die wêreldwye voorkoms van voedselvermorsing en bevolkingsgroei.
Daar word voorspel dat die wêreldvraag na insekproteïen teen 2030 500 000 ton/jaar kan wees, vergeleke met huidige produksie van 10 000 ton. Hoewel daar baie potensiële gebruike vir insekproteïen is, word geraam dat die grootste vraag uit die mark vir troeteldier- en akwakultuurvoer sal kom.
Die waarde van die internasionale troeteldiermark word op $38 miljard (R602,5 miljard) geraam en die voorspelling is dat die waarde van die insekproteïenmark teen 2027 $4,6 miljard (R73 miljard) kan beloop.
Bolani sê Inseco is ’n markleier en sy bestuurspan het ná jare van navorsing en ontwikkeling gevorderde voorloper-verwerkingsvermoë ontwikkel, wat dit ver voor sy mededingers plaas. Dit is tans die grootste insekproteïenprodusent in die Suidelike Halfrond en die enigste maatskappy in Suid-Afrika wat ontvette insekmeel en -olie kan produseer, waarna daar internasionaal ’n groot vraag is.