
Die Nyl-aksiegroep gaan appelleer ná Limpopo se departement van minerale hulpbronne aan Sylvania Platinum ’n mynreg toegeken het om platinum in die Nyl-vloedvlakte suid van Mokopane, te myn.
Die mynreg is toegeken al het Limpopo se departement vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (Ledet) sy aansoek om omgewingstoestemming afgekeur. Sylvania het hierteen geappelleer, maar wag nog vir die beslissing.
“Dit is baie frustrerend,” sê mnr. Albert Jordaan, Sylvania-projekbestuurder, want die mynreg beteken niks sonder omgewingstoesteming en ’n waterpermit nie. Hy sê die uitspraak oor die appèl sloer onnodig, en as daar nie gou uitsluitsel is nie, gaan Sylvania gedwing wees om die aansoekproses van voor af te begin.
Redes ontbreek
Mnr. Emile Honiball van die Nyl-aksiegroep sê een van die redes vir hul appèl teen die mynreg is dat die Departement van Minerale Hulpbronne nie redes vir sy besluit bekendgemaak het nie en ook nie voorwaardes vir die toekenning van die mynreg uitstippel nie.
Jordaan verwag dat Departement van Minerale Hulpbronne binnekort ’n dokument sal uitreik wat voorwaardes en vereistes ten opsigte van die mynreg uitspel.