Die Appèlhof in Bloemfontein het uitspraak voorbehou in die saak van mnr. Crawford von Abo teen die Suid-Afrikaanse Regering. Luidens ’n berig op News24.com het die staat se appèl teen ’n bevinding van die Suid-Gautengse Hooggeregshof Maandag (28 Februarie) in die Vrystaatse hoofstad voorgekom.
Die Hooggeregshof het vroeër bevind dat die staat Von Abo in die steek gelaat het in sy versoek om hulp en diplomatieke beskerming nadat hy sy plase in Zimbabwe verloor het, en dat die staat hom vir sy verliese moes vergoed.
Sedert 2008
Von Abo probeer sedert 2008 al om die Suid-Afrikaanse Regering sover te kry om diplomatieke stappe te doen en op te tree ten opsigte van die verwerping van sy regte in die buurstaat.
Oor ’n tydperk van 50 jaar het Von Abo ’n groot boerdery in Zimbabwe opgebou, maar hy is sonder ’n inkomste gelaat nadat besetters sy 14 plase oorgeneem en so te sê verwoes het.
Die Hooggeregshof het in Februarie 2010 bevind dat die Regering ’n grondwetlike verpligting teenoor Von Abo het om sy diplomatieke regte te beskerm, en dat binne 60 dae ná die uitspraak opgetree moes word om sy regte te eer.
28 Februarie 2011
Bron: News24