
Dit volg nadat die kommissie vir die nasionale minimum loon in Desember ’n jaarlikse verhoging van die verbruikersprysinflasie (VPI) plus 0,5% tot 1% vir die komende boekjaar voorgestel het. Die jaarlikse VPI was einde November op 7,4%.
Agri SA het reeds aan die einde van 2022 vir die regering gevra om nie die minimum loon met meer as inflasie te laat styg nie, aangesien dit nie volhoubaar is vir die landbousektor nie. Agri SA het ’n verhoging gelykstaande aan VPI minus 2% voorgestel.
Die minimum loon het in 2022 reeds met amper 7% toegeneem tot die huidige R23,19 per uur. Volgens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het die gemiddelde jaarlikse inflasie van plaasarbeid sedert 2012 met 11,6% gestyg, terwyl die VPI in die ooreenstemmende tyd met 5% toegeneem het.
Volgens mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, het enige verhoging in insetkoste ’n impak. Arbeidskoste is na gelang van die vrugsoort van 35% tot 45% van die direkte produksiekoste op die plaas.
Rabe sê gegewe die aansienlike stygings in die pryse van kunsmis, chemikalieë en brandstof, en voortgesette logistieke knelpunte is enige verdere kostestygings problematies. Daarby is internasionale handel onder druk met gepaardgaande hoë inflasie en rentekoerse wat verbruikers se besteebare inkomste knou.
Produsente kan stygende insetkoste tot op ’n punt absorbeer danksy beter produktiwiteit, hoër opbrengste en skaalekonomie, maar net tot ’n sekere punt. “Daardie punt is verby.”
Volgens Rabe het die bedryf simpatie en begrip vir die stygende lewenskoste en stel hulle ’n verhoging gekoppel aan inflasie voor. Arbeidskoste het die afgelope 10 jaar met heelwat meer as inflasie gestyg. Nog ’n aanpassing van meer as inflasie kan bloot nie geabsorbeer word nie.
Mnr. Rico Basson, uitvoerende direkteur van Vinpro, sê die verhoging sal die mees direkte impak hê op primêre produsente, veral dié wat betrokke is by arbeidsintensiewe kommoditeite soos wingerdbou, waar die salarisrekening ’n aansienlike deel van boere se insetkoste uitmaak. Daarom sal die wynbedryf een van die sektore binne die landbou wees wat die swaarste deur die verhoging geraak word.
Boonop herstel die wynbedryf nog ná die covid-19-grendeltyd.
“Die wynbedryf was een van die subsektore wat swaar getref is deur die covid-19-beperkings en die bedryf het in daardie tyd miljoene rande verloor,” sê Basson. “Tydens die 2022-loonoorsig het die bedryf by die kommissie gepleit om nie lone te verhoog nie, aangesien die bedryf nog herstel.”
Regverdig
Basson sê die bedryf erken die skerp stygings in lewenskoste vir werkers en ondersteun dus ’n inflasiegekoppelde verhoging. Die wynbedryf vra dat die nasionale minimum loon nie in die volgende boekjaar met meer as inflasie verhoog moet word nie om hom toe te laat om doeltreffend te funksioneer om herstel in die sektor te bespoedig.
Hy sê die belange van besighede én werknemers moet oorweeg en gebalanseer word.
Die gevolge van die styging kan volgens Rabe konsolidasie op produksievlak en die gebruik van tegnologie insluit, maar die styging hoër as inflasie kan groot probleme veroorsaak en kan belegging in die primêre landbou ontmoedig.
Volgens Basson het die verhoging in die minimum loon positiewe uitkomste soos om mense uit armoede op te hef en inkomste vir individue en gesinne te verhoog. Die verhoging lei egter ook tot verhoogde werkloosheid.
“Na gelang van die loonverhoging sal die werkgewer gedwing word om na meganisasie te kyk pleks daarvan om werkers aan te stel. Die voorgestelde verhoging van die VPI plus een bo en behalwe die beduidende verhoging in die minimum loon verlede jaar kan ’n nadelige uitwerking op indiensneming in die wynbedryf hê.”
Rabe sê die minimum loon as sodanig is nie regtig ’n probleem binne die vrugtebedryf nie aangesien vrugteboere in die meeste gevalle reeds meer as die minimum loon betaal en dat voltydse werkers baie voordele geniet. Dit het wel ’n impak op seisoenswerkers en met ’n buitensporige aanpassing op die laagste vlak kan dit ’n uitkringeffek regdeur die loon- en salarrisstruktuur hê, ook op meer geskoolde vlakke.
Volgens Basson bied werkgewers in die primêre landbou ’n verskeidenheid voordele aan hul werknemers, insluitend die verskaffing van behuising, water en elektrisiteit, wat noodsaaklike benodighede is, teen ’n koste vir die besigheid. Werkgewers wat hierdie voordele aan hul werknemers bied, behoort in aanmerking te kom vir aftrekkings van die nasionale minimum loon.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.