
Talle mense in die landboubedryf is besorg oor die impak wat die uitbreking van herfs-kommandowurm op die Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB AgriBesigheid, meen Suid-Afrika is in ’n goeie posisie om dié plaag te bestry. Hy het in ’n verklaring van FNB verskeie vrae rondom die probleem beantwoord.
In watter provinsies is die wurm teenwoordig en watter gewasse word geaffekteer?
Die voorkoms van herfs-kommandowurms in Limpopo en Noordwes is bevestig. Mielies is in gevaar, maar die wurms kan ook tamaties en aartappels aanval. Die plaag sal moontlik nie uitsluitlik slegs dié gewasse aanval nie.
Het die plaag ’n invloed op Suid-Afrika se uitvoer?
Die plaag beweeg deur die lug, dit hoef nie deur middel van oesprodukte op ’n land te kom nie. Dus sal uitvoerbeperkings nie doeltreffend wees nie. Die plaag het van Suid- en Noord-Amerika na Noord-Afrika gereis en uiteindelik tot in Suider-Afrika versprei.
Wat word gedoen om die verspreiding van die wurms te voorkom?
Die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery het die Suid-Afrikaanse noodplantplaagreaksieplan in werking gestel en is besig met die registrasie van ’n spuitmiddel, die monitering van die plaag se vordering en die verspreiding van tegniese inligting oor bestrydingsopsies.
Hoe sal die plaag mieliereserwes beïnvloed?
As dié uitbreking nie bekamp word nie, kan dit mielieproduksie benadeel. Gelukkig is amper 80% van Suid-Afrika se produksie Bt-mielies, wat nie vatbaar vir die plaag is nie. Die groot mielieproduksiegebiede in Suid-Afrika is steeds betreklik plaagvry.
Sal dit ’n impak op die mielieprys hê?
Dit is te vroeg om te bespiegel oor die impak van die wurms op die mielieprys en breër markfaktore. Dit kan egter blitsig verander omdat die plaag so vinnig kan versprei.
Wat moet boere doen om die impak van die wurms te beperk?
Wees baie bedag op die gevare. Kyk uit vir die wurms en lig die departement in as jy die plaag op jou plaas opmerk. Die departement kan dan tegniese inligting en hulp verskaf.
Wat is die groter gevolge van die plaag, gegewe dat Suid-Afrika pas uit ’n knellende droogte kom?
Daar is ’n onmiddellike koste vir boere weens die koste van spuitmiddels. Boere wat ’n tweede oes verloor (ná verlede jaar se droogte) sal moontlik diep in die skuld wees; dit kan hulle jare kos om te herstel.