
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SASKV, sê hy het verlede week aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf oor die impak van die drastiese, waningeligte en ongeregverdigde nuwe sitrusreël wat vereis dat Suid-Afrikaanse lemoene wat vir die EU bestem is, kouesterilisasie moet ondergaan.
Chadwick het aan Ramaphosa uitgelig dat ’n beraamde 3,2 miljoen kartonhouers sitrusvrugte, wat R605 miljoen werd is, reeds na die EU onderweg is en moontlik met hul aankoms vernietig kan word. Dit is buiten die nuwe reël se verwoestende impak op die plaaslike sitrusbedryf en die 140 000 werkgeleenthede wat dit ondersteun.
Ramaphosa het Dinsdag 19 Julie met mnr. Charles Michel, president van die Europese kommissie, vergader om strategiese vennootskappe en belangrike kwessies met betrekking tot handel, vrede en sekerheid te bespreek. Luidens ’n verklaring op die presidensie se webwerf is die uitvoer van sitrus een van die dringende handelskwessies wat bespreek is.
Chadwick sê die SASKV het verneem dat vraghouers met sitrusvrugte, nie net lemoene nie, met hul aankoms in die EU teruggehou word. “Dit is hoekom die Wêreldhandelsorganisasie spesifiek ’n proses van ses maande vir die inwerkingtreding van nuwe maatreëls vereis.”
Hy sê die SASKV hoop dat Ramaphosa se vergadering met Michel vrugte sal afwerp, en dat daar van die nuwe regulasies afgesien sal word of die toepassing daarvan ten minste vertraag sal word tot dit deeglik hersien kan word.
Intussen sal die SASKV voortgaan om die saak met Ramaphosa te bespreek, assok met me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.