Vriende en familie het ingespring om die vermoorde, Stellenbosse boer mnr. Alberto Costa (44) se boerderybedrywighede, wat sedert die moord in ’n “deurmekaarspul” gedompel is, aan die gang te hou.
Costa, wat onder meer wyn, eiers, tafeldruiwe, sitrus, steenvrugte, bees- en skaapvleis geproduseer het, is op 18 Februarie buite sy huis op die plaas Cloetesdal doodgeskiet nadat hy ondersoek na verdagte geluide gaan instel het.
Kommersiële boere in Suid-Afrika produseer elkeen daagliks voedsel vir sowat 1 600 mense, aldus mnr. Lourie Bosman, DA-skaduminister van landbou . Die verlies van ’n enkele boer is dus ’n geweldige slag vir kosproduksie.
Benewens die plaas op Stellenbosch het Costa ook grond in die Voor-Paardeberg-omgewing besit.
Eers het die gemeenskap moue opgerol om die Costa-familie te help om Alberto se wyndruiwe-oes te pars en nou het een van sy vriende, mnr. L.J. le Roux, ’n bemarkingsveldtog per e-pos begin om oorskoteiers van die hand te sit sodat Costa se dood nie boonop in ’n finansiële verlies vir sy familie ontaard nie. Hy het daagliks sowat 42 000 eiers geproduseer.
“Met Alberto Costa se heengaan het sy boerdery ongelukkig ’n bietjie agterweë gebly. Weens die deurmekaarspul is die produksie nou ver voor die aflewering en ons help graag om die surplus te verkoop.”
Le Roux het Maandagmiddag e-pos aan vriende gestuur en minder as ’n dag later het hy selfs oproepe uit die Parlement ontvang. Die VF Plus-party het sy bestelling vir eiers ingesit. Sy foon lui onophoudelik omdat mense wil help of eiers bestel.
“Ek is verbaas oor die spoed waarmee die e-pos versprei het. Ek het dit nie in my wildste drome gedink nie.”
Le Roux gaan ’n koeltrokkie by sy skoonmense in Bellville parkeer. Hulle sal van more (2 Maart) af elke dag houers met 30 eiers per skinkbord teen R20/stuk verkoop.”
Hy doen ook ’n beroep op groter afsetpunte, soos bakkerye en eetplekke, om hom te bel by 083 261 9050 of 021 511 5320 as hulle belang stel.
Mnr. Rudi Buys, voorsitter van die Stellenbosch-landbouvereniging en ’n goeie vriend van Costa, sê dit gaan met Costa se weduwee, Zelda, en hul twee kinders “so goed as wat dit kan in die omstandighede”. “Sy moet nou langtermynbesluite neem sonder om emosioneel te wees.”
Hy sê die Stellenbosse gemeenskap is steeds “skrikkerig en hou hul huise toe”.
Ondanks ’n beloning van R20 000 vir inligting wat tot inhegtenisname en skuldigbevinding lei, is niemand nog vir die moord op Costa aangekeer nie.
Kol. André Traut het aan Landbouweekblad gesê die ondersoek vorder goed.
Buys sê as die skuldiges vasgestrek word, sal dit nie vir Costa terugbring nie, maar almal wil sien dat die mense uit die samelewing verwyder word.
1 Maart 2011