
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê die kans is 40% dat ligte ryp voor 10 April in die distrik Bothaville kan voorkom, met ’n kans van 20% tot 30% op matige tot swaar ryp in die tweede helfte van April.
“Die risiko is heelwat laer in die noordwestelike produksiegebiede, soos Lichtenburg, met ’n kans van ongeveer 10% op matige tot swaar ryp voor einde April,” sê Van den Berg. “In 2007 het dit op 20 Maart reeds geryp, maar in 2016 eers einde Mei.”
Oor die sentrale en westelike somergraanproduksiegebiede het reën eers ná die normale optimale plantdatums voorgekom. Gevolglik het aanplantings tussen een en twee weke ná die optimale plantdatums plaasgevind. Die situasie veroorsaak ’n groot risiko vir rypskade op gewasse.
“As ryp voor die einde van April voorkom, is dit redelik seker dat die oes skade gaan ly,” sê Van den Berg. “Na verwagting is ongeveer 70% tot 80% van die mielie-aanplantings wes van die N1 later as die optimale plantdatum geplant. Dié laat aanplantings is byna die helfte van die land se totale aanplantings.”
Sonneblom kan nog tot die laaste week van Januarie in die sentrale en westelike dele van die land aangeplant word.
El Niño reeds op sy hoogtepunt?
Die verre westelike en suidwestelike dele van die land is steeds in die greep van ’n baie ernstige droogte, met sekere gebiede wat min of geen reën ontvang het. Groot kommer heers oor weidingstoestande vir lewende hawe, veral in die westelike dele van land.
“Hoewel oppervlakwatertoestande in die meeste gebiede beter is as verlede seisoen, word die situasie ten opsigte van ondergrondse water kritiek swak”, sê Van den Berg. “Wateraanvulling het in die meeste gebiede in die somerreëngebied in 2010 en of 2011 laas plaasgevind vanweë ondergemiddelde reënval in die jongste jare.”
Volgens Van den Berg sal die 2018-’19-somer waarskynlik onthou word as een van die moeilikste seisoene ten opsigte van weervoorspellings. “Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan die gereelde verandering van see-oppervlaktemperature in die Indiese en die Stille Oseaan.”
See-oppervlaktemperature het reeds verlede Oktober vlakke bereik wat die ontwikkeling van ’n El Niño-stelsel aandui. Daar is egter steeds geen teken van koppeling van El Niño-faktore met die heersende weerstelsels nie, met die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat steeds aan die La Niña-kant van neutraal is. “As na die see-oppervlaktemperature gekyk word, is daar ’n groot poel van koeler as normale see-oppervlakwater net suid van die Niño-gebiede. Dit is moontlik dat hierdie poel die normale uitwerking van die Niño-gebiede neutraliseer,” sê Van den Berg.
“Die nuutste aanduidings is dat die El Niño-stelsel moontlik reeds ’n hoogtepunt begin bereik het en kan begin verswak. Uit die geskiedenis weet ons egter dat daar fases van ontwikkeling is en dat dit weer kan versterk.”
Reënval
Korttermynvoorspellings dui op ’n beter kans op reënval in die somerreënvalstreke van 15 tot 23 Januarie, buiten in die westelike en suidwestelike dele van die Noord-Kaap en die westelike dele van die Oos-Kaap.
Van den Berg sê daar is verskillende scenario’s vir die verskillende produksiegebiede in die somerreënstreek van die land.
Scenario’s vir die westelike gedeeltes:
(Hierdie gedeeltes sluit die verre westelike dele van die Noord-Kaap en die Oos-Kaap uit waar swakker reënval verwag word.)
Scenario 1. Gemiddelde reënval vir Januarie en die eerste deel van Februarie, maar droër toestande vir die laaste deel van die seisoen met die uitwerking van El Niño wat ’n rol kan speel (70% kans).
Scenario 2. Die El Niño-stelsel se reaksie sal dalk nie tipies wees nie, of dit kan vinnig begin verswak, wat goeie neerslae vir die res van die seisoen kan veroorsaak soos in 1987-’88 (30% kans).
Scenario’s vir die oostelike gedeeltes:
Scenario 1. Ten minste gemiddelde reënval vir die res van die seisoen tot aan die einde van Maart. Die El Niño-stelsel se uitwerking behoort nie so ernstig te wees nie (70% kans).
Scenario 2. Ondergemiddelde reënval vir Februarie en Maart (30% kans).
In Namibië sal dieselfde scenario’s as in die westelike dele van Suid-Afrika van toepassing wees. Die kans op reënval in die komende maande in die suidelike dele van Namibië is, soos in die westelike dele van die Noord-Kaap, swak.
Winterreënvalgebied
Ligte neerslae is moontlik met kouefronte wat steeds die suidelike dele van die land raak. Dit is veral aan die Suidkus waar reën in die volgende paar weke moontlik is.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.