
Me. Anina Hunter, wat reeds ses jaar in Afma se direksie dien, is op ’n vergadering van Afma se direksie tot nuwe voorsitter verkies. Sy is luidens ’n verklaring van Afma die eerste vrou wat die pos beklee.
Hunter het jare lange ervaring in die veevoerbedryf. Sy is sedert Oktober 2021 direkteur van dierevoer by RCL Foods en was voorheen langer as sewe jaar besturende direkteur van Afgri Animal Feeds.
Die nuwe vise-voorsitter is mnr. Michael Schmitz. Hy is besturende direkteur van Meadow Foods.
Benewens Hunter en Schmitz, is die ander lede van die nuwe Afma-direksie mnre. Brett Roossendaal (RCL Foods), Dieter Fleischman (Afgri Animal Feeds), David Nel en Thinus van Lill (Quantum Foods), Paul Saunders (Sovereign Foods), me. Sharlene Moodley (De Heus Animal Feeds), drr. Franscois Crots (Country Bird Holdings), Josef van Wyngaard (Voermol) en Neil Dominy (Astral Foods), asook mnr. De Wet Boshoff, uitvoerende hoof.
Afma is die amptelike verteenwoordigende liggaam van die Suid-Afrikaanse veevoerbedryf. In die jaarverslag van die uittredende voorsitter, mnr. Wouter de Wet, wat onlangs voorgelê is op die organisasie se 75ste jaarvergadering op Geeorge, sê hy die organisasie het die afgelope jare opnuut klem geplaas daarop om “uitwaarts te fokus” en waarde in die landbouketting vir sy lede te ontsluit danksy sy sentrale posisie in die waardeketting.