Sowat 150 miljoen mense sal gevoed kan word as vroue in landelike gebiede dieselfde geleenthede as mans sou kry, aldus Afgri.
Luidens ’n verklaring sê die maatskappy dié statistiek is in ’n onlangse studie deur die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) weergegee.
Die studie het bevind dat hongersnood in die wêreld met dié getal sal afneem as vroue dieselfde toegang tot grond, tegnologie, finansiële dienste, markte en opvoeding sou hê.
Me. Niki van Wyk, die groepsekretaris by die maatskappy, sê opkomende lande sal aansienlik meer voedsel kan produseer as vroue se bydrae tot die landboubedryf ontgin word.
“Vroue speel in meer as een opsig ’n belangrike rol in die landboubedryf. Hulle is meestal die werkers wat in verskeie bedrywe in elke land werk en hulle is ook die versorgers. Dit is hartseer dat, hoewel so baie vroue in Suid-Afrika die grond bewerk, bitter min van hulle die eienaars van die grond is,” aldus Van Wyk.
43% van die arbeidsmag
Vroue maak sowat 43% van die landbou-arbeidsmag in sleutelbevolkings uit. In Latyns-Amerika maak vroue 20% van die landbou-arbeidsmag uit, terwyl dit in Oos-Asië, Suidoos-Asië en Afrika suid van die Sahara tot 50% kan wees.
“Vroue is gewoonlik die broodwinners in Suid-Afrika se landelike huishoudings. Tog is ’n skokkende 18% van volwassenes ouer as 15, of sowat nege miljoen landsburgers, ongeletterd. Voordat ons nie die vlak van opleiding en opvoedingsgeleenthede aan ons vroue verhoog nie, kan ons nie ongelykheid uitwis nie,” vertel Van Wyk.
Volgens Van Wyk is dit meestal vroue wat hul landelike gemeenskappe help voed en versorg deur die daarstelling van groentetuine en voedingskemas by skole, ens.
Geslag
Die VN het die wêreld onlangs versoek om enige diskriminasie teen vroue te probeer uitwis en om geslag een van die topvoorrangsake te maak wanneer die groei en ontwikkeling van die landbousektor bespreek word.
Van Wyk sê dit is interessant dat hoewel vroue die meederheid werksure in die landbousektor aanteken, dit ouer mans is wat steeds die meeste van die grond besit, die arbeidsmag beheer en besluite oor die sektor neem.
27 September 2011