
Die verering van drie vroue as pioniers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf met die jaarlikse wynoesherdenkingsgeleentheid by Groot Constantia wys vroue staan net so sterk as hul manlike eweknieë in die bedryf.
By die geleentheid is die geboorte van die wynbedryf in Suid-Afrika 363 jaar gelede gevier, die seën op die nuwe oes is gevra en baanbrekers in die bedryf vereer. Daar is vier erkenningskategorieë vir individue se besondere bydrae tot die wynbedryf. Dit is visionêre leierskap, diversiteit en transformasie, wynwaardering en -bevordering, en wingerdbou en wynskepping.
Me. Carmen Stevens, die eerste swart Suid-Afrikaner wat toegelaat is om wynkunde te studeer, is vanjaar met die ikoniese 1659-toekenning vir visionêre leierskap vereer. Stevens het 25 jaar ervaring as wynmaker. Nadat sy destyds weens haar velkleur verbied is om by Elsenburg in te skryf, het sy vir verskillende vooraanstaande wynkelders as wynmaker gewerk, voor sy Carmen Stevens Wines – die eerste wynkelder wat ten volle deur swart vroue besit word – op Stellenbosch op die been gebring het.
Stevens maak nie net verskeie bekroonde wyne nie, maar dien ook in die wyn-en-spiritusraad en in die direksie van die Suid-Afrikaanse transformasie-eenheid. Sy glo daarin om terug te ploeg in die gemeenskap, en jeugontwikkeling in die wynbedryf lê haar na aan die hart. Sy is vas oortuig vroeë bemagtigingsprogramme kan kinders in staat stel om bo hul omstandighede uit te styg. Haar organisasie sonder winsbejag het tot dusver 11 622 731 borde kos aan 41 363 leerders verskaf.
Die erkenning vir diversiteit en transformasie is aan me. Denise Stubbs toegeken. Sy het nog altyd daarvan gedroom om terug te gee aan haar gemeenskap en toe sy die geleentheid kry, het sy haar korporatiewe loopbaan agtergelaat en Thokozani saam met 65 plaaswerker-aandeelhouers gestig. Stubbs is die besturende direkteur van Thokozani, wat “vieringe” in Zoeloe beteken, en het ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van die Thokozani-groep van maatskappye gespeel. Die maatskappy is ’n breëbasis- swart ekonomiese bemagtigingsinisiatief wat wyn-, konferensie-, gasvryheids- en eiendomsakebelange insluit. Thokozani voer na sewe lande uit.
Sy dien in die raad van Wines of South Africa (Wosa) en het al verskeie toekennings ontvang, waaronder die International Enterprising Women-toekenning in 2019.
Wyn bevorder
Me. Christine Rudman is vereer in die kategorie wynwaardering en -bevordering. Rudman is ’n Kaaspse wynmeester, wat al twee maal deur die wynbedryf vereer is, en het meer as vier dekades ondervinding in die bedryf. Sy het van 1977 tot 1995 as wynhandelsmerkbestuurder en daarna bemarkingsbestuurder vir Stellenbosch Farmers’ Winery gewerk. Daarna was sy die hoof van die Kaapse wynakademie en voorsitter van die instituut van Kaapse wynmeesters. In 2015 is sy aangestel as tegniese direkteur van die internasionale Michelangelo-wyn-en-spiritualieëkompetisie, waar sy nege jaar lank die enigste Suid-Afrikaanse beoordelaar was.
Sy het in internasionale panele reg oor Europa geproe en plaaslik het sy verskeie kompetisies beoordeel. Sy het ook sommelier-opleiding voltooi en Suid-Afrikaanse wyne internasionaal aangebied.
Onder haar gepubliseerde bydraes tot die bedryf is die internasionaal bekroonde jaarlikse Platter’s-wyngids, Wineland, Classic Wine, die Best Value Guide en Wine Tourism Handbook.
Mnr. Francois Viljoen, wat die afgelope 36 jaar as wingerdboukundige praktiseer, is vanjaar die wenner van die toekenning vir wingerdbou en wynskepping. Hy het ’n BSc-graad in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch en ’n honneursgraad in landbouvoorligtingsdienste verwerf.
Hy het sy loopbaan in 1986 as ’n junior wingerdboukundige voorligter in die Robertson- en Klein-Karoo-streek begin. Voor hy in Julie 2019 as bestuurder van die Gen-Z-wingerdprojek oorgeneem het, was hy 20 jaar die bestuurder van Vinpro se konsultasiediens waar hy ’n span wingerdboukundiges en grondwetenskaplikes gelei het.
In 2014 is hy deur die Robertson-wynvallei met die gesogte Pon van Zyl-trofee bekroon vir sy uitmuntende bydraes tot die streek en die breër bedryf. Viljoen verskaf deurslaggewende wingerdbou-advies en -insig aan wynprodusente reg oor die bedryf en dien in verskeie bedryfskomitees, -rade en -werksgroepe.
Dr. Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, sê dit is ’n voorreg om erkenning te gee aan hierdie leiers in die bedryf, wat oor die jare ’n uitsonderlike invloed op die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitgeoefen het. “Daar word jaarliks met groot afwagting na die wynoesherdenkingsgeleentheid uitgesien, nie net omdat ons die begin van die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan vier en die nuwe oes kan seën nie, maar ook omdat ons hierdie buitengewone individue kan vereer.”