Mal en belaglik. Só beskryf vrugteboere in die Wes-Kaap die koste wat daagliks toeneem soos hulle op kragopwekkers moet staatmaak om koelkamers, pakskure en elektriese besproeiingspompe aan die gang te hou.
Mnr. Pietie Wolfaardt, vrugteboer van Ceres Cascade Farms naby Prince Alfred Hamlet, beraam dit kos hulle vanjaar tot drie keer meer om te produseer weens die dieseluitgawes.
Die grootste deel van die sagtevrugtebedryf is tans besig om te oes. Boonop is Januarie en Februarie bekend om hittegolwe in die Wes-Kaap, wat bykomende besproeiing verg.