Vrugtevlieë is ’n groot bedreiging vir die vrugtebedryf en dié bedryf vra dorpenaars se hulp daarmee gedurende die winter.
Luidens ’n mediaverklaring kom dié vlieë veral in die Wes-Kaap voor waar baie vrugte verbou word.
Hortgro Dienste sê insekplae is ’n toenemende probleem in die landbou en ingryping is nodig om verliese in oesopbrengste te voorkom. Verder kan die voorkoms van byvoorbeeld vrugtevlieë lei tot ’n uitvoerverbod op vrugte weens die streng kwarantynregulasies wat bestaan.
“Suid-Afrika se uitvoervrugtebedryf is van groot ekonomiese belang vir die land in die algemeen en die Wes-Kaap in die besonder, en ’n uitvoerverbod op ons vrugte kan dus ernstige finansiële gevolge vir ons plaaslike gemeenskappe inhou,” lui die verklaring.
Tuine
Gedurende die winter beweeg die vlieë uit boorde en wingerde omdat daar nie voldoende skuiling is nie. Hulle vind dan skuiling in plaastuine of huistuine van nabygeleë dorpe. In dié tuine vind hulle gewoonlik voedsel (bv. heuningdou en voëlmis) wat hulle gedurende die winter aan die lewe hou.
Die wyfie lê ná paring haar eiers in enige vleesagtige vruggie of bessie wat in bome of struike in tuine aangetref word. Roosknoppe is ook ’n gewilde gasheer. Dorpenaars word dus gevra om die bedryf by te staan deur goed uit hul tuine te verwyder as dit lyk of eiers daarin gelê is of vlieë rondom voorwerpe voorkom.
Bessies en vruggies wat afgepluk is of op die grond lê, kan in swart sakke geplaas word. Die sakke moet styf toegebind word en vir twee tot drie dae in die son geplaas word.
Die vrugtevlieglarwes sal sodoende vrek. ’n Tweede oplossing is die gebruik van omgewingsvriendelike M3-lokstasies, wat die vlieë doodmaak. Dié stasies kan in die tuin opgehang word.
Nóg ’n oplossing is ’n inisiatief wat deur FruitFly Africa voorgestaan word. Gedurende die winter word miljoene steriele vrugtevliegmannetjies in verskillende dorpe vrygelaat.
Die wilde wyfie wat met so ’n mannetjie paar, se eiers is onvrugbaar en dit lei tot ’n aansienlike afname in die vliegbevolking se getalle. “Hierdie tegniek is biologies van aard, het geen impak op mens of dier nie en word as een van die mees omgewingsvriendelike maniere van plaagbestryding beskou,” aldus Hortgro.
24 Mei 2012