Meer as 100 000 ha se weiveld het sedert die begin van die maand in die Vrystaat afgebrand, sê die provinsiale regering.
Mnr. Malcolm Procter, adjunk-direkteur van bos- en veldbrandtoesig by die provinsiale departement van landbou en bosbou, sê 151 639 ha het reeds afgebrand. Vir die jaar tot dusver staan die skade op 236 176 ha. Hy sê sedert die begin van die naweek het 20 brande voorgekom.
Volgens Procter het 20 000 ha grond en ‘n groot aantal vee daarby reeds in die slag gebly weens ‘n grootskaalse brand wat steeds in die omgewing van die Willem Pretorius-natuurreservaat in die Senekal-distrik woed. Dit is bevestig dat 10 stuks vee reeds doodgebrand het.
“Sowat 42 000 ha van die grond wat afgebrand het, is weens boere wat vir vroeë weiding gebrand het maar dié brande het buite beheer geraak. Wat die brand by die Willem Pretorius-natuurreservaat aanbetref, is daar gebrand vir voorbrande. Ons het vir gesê dis te gevaarlik om nou te brand, maar hulle het voortgegaan en nou is daar groot skade.”
Vrystaat ‘n rampgebied?
Procter sê hulle probeer tans om die Vrystaat as ‘n rampgebied verklaar te kry, aangesien verskeie plase totaal afgebrand het.
“Geen menslike lewensverlies is al aangeteken nie. Ons is bewus van een voorval waar iemand beseer is in die Daniëlsrus-omgewing.”
Volgens Procter word vier helikopters tans gebruik om die brande te probeer blus. “Twee van die weermag se helikopters word in die Rosendal-distrik gebruik, en dan fokus twee van Working on Fire se geel helikopters in die Bethlehem-distrik.”
Die grootste skade
Volgens die jongste statistiek is groot skade in die Fouriesbrug-omgewing aangerig met 65 000 ha wat afgebrand het. Procter sê in die Maluti-a-Phofung munisipale gebied woed vyf brande tans en het 35 000 ha reeds in die slag gebly.
“Brande het sover soos Reddersburg voorgekom, waar 60 ha gebrand het. Twee brande kom tans rondom Bloemfontein voor, waar 300 ha al in die slag gebly het.”
In Rosendal het 6 000 ha veld afgebrand, in die Viljoenskroon- en Vredefort-omgewing het 5 000 ha en 1 500 ha in die slag gebly. In die omgewing van Ficksburg, Moolmanskop en Daniëlsrus het onderskeidelik 700 ha, 1 500 ha en 2 000 ha afgebrand.
Brande het ook naby Welkom, Kroonstad, Sasolburg en Phutaditjaba voorgekom.
Klik hier vir 'n videogreep van een van die brande.
7 September 2010