
Ten spyte van stygende insetkoste en die onsekere politieke klimaat is die drie finaliste in die Vrystaatse Jongboer van die Jaar-kompetisie oorgehaal om die geleenthede in hul bedrywe te benut.
Vir die 29-jarige varkboer van Theunissen mnr. Hennie Venter, eienaar van Freestate Pork, is die groeigeleenthede in die varkbedryf nie die enigste mikpunt nie. Hy glo die per capita-verbruik van varkvleis kan aansienlik uitgebrei word.
“Die varkbedryf groei tans goed, maar ek kan nie sien hoekom varkvleis nie in die toekoms deur die verbruiker as van dieselfde waarde geag kan word as bees- en skaapvleis nie. Daar is baie werk wat gedoen moet word om die huidige persepsie van verbruikers te verander en hulle in te lig van die veeldoeligheid, gesondheid en waarde van varkvleis, maar dit is ’n opwindende uitdaging. Dit bring ook mee dat die varkvleisbedryf ’n hoogs winsgewende bedryf gaan raak en dit maak my opgewonde.”
Die graanbedryf se kwessies en geleenthede is effens anders, glo mnr. Le Roux Erasmus, 29-jarige graanboer van Hoopstad. “Dit is ’n probleem om nie beheer te hê oor jou markte nie, maar graan is ’n stapelvoedsel en mense moet eet, wat beteken dat daar altyd ’n mark vir ons produk sal bestaan. Die mate waartoe ons met veerkragtigheid die wisselvalligheid in die weer kan trotseer, bring die geleenthede.”
Geleenthede uit terugslae
Een so ’n geleentheid is die versuiptoestande van vanjaar en die mate waartoe Erasmus dit tot sy voordeel gaan gebruik. “Ek glo die vog in die grond gaan genoeg wees om droëlandkoring op die natter lande te saai. Ons het nog nooit vantevore koring gesaai nie, maar dit is ’n geleentheid om kontantvloei uit die versuiptoestande te realiseer.”
Die verbetering in en toeganklikheid van KI-tegnologie skep vir mnr. Jaco Burger, 34-jarige skaapboer van Wepener, ’n geleentheid om sy stoetery se teelmateriaal te verbeter en aan kommersiële boere te verkoop. “My kliënte hoef nie meer ’n ram aan te hou nie en is dus bereid om effens meer te betaal vir uitstekende teelmateriaal. Hierin lê vir ons ’n groot geleentheid.”
Burger boer naby die Lesotho-grens. Veiligheid is dus vir hom ’n enorme probleem, maar verbeterde tegnologie help hom om sy kudde teen diefstal te beskerm en die probleem kry hom dus nie onder nie.
Hierdie optimistiese ingesteldheid van al drie finaliste het die sameroeper van die 26ste aanbieding van die Vrystaat Jongboer van die jaar, prof. Pieter Fourie, beïndruk. “Dit is nie die grootte van die boerdery nie, maar die bestuurprestasie van die boer wat die wenner bepaal.”
Die wenner sal op 7 April in Bloemfontein aangekondig word.