
Mnr. Jan Briel, ’n boer van die omgewing, sê dié pad is in so ’n slegte toestand dat selfs viertrekvoertuie sukkel om daar te ry. “Die probleem is dat die ondergrondse wegvoerpype so verstop is weens nalatigheid van die departement van paaie dat water oor die pad stoot en dit onbegaanbaar maak.”
Hy vertel boere van die omgewing laat die pad twee keer per jaar deur ’n private kontrakteur skraap teen ’n koste van R5 000 per boer.
Boere en plaaswerkers het met drie trekkerlaaigrawe en vyf trekkers met waens van 07:00 tot 18:00 gewerk om die pad te herstel.
“Dit is ’n saaigebied hierdie en boere is afhanklik van die pad om hul produkte by silo’s te kan lewer. Ons is besig om soja- en mielielande te stroop en kan nie agteroorsit en vir die departement wag nie. Die plaaswerkers sukkel ook om met hul eie voertuie op die pad te beweeg en daarom het ons almal ingespring.”
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê dit is deesdae ’n algemene verskynsel dat boere paaie herstel. “Hoewel ons trots is op ons boere wat nie net agteroor sit en wag nie, is dit weereens ’n funksie van die regering wat verwaarloos word en nou net na die publiek oorgeskuif word.”