Op dieselfde dag dat mnr. Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, in sy provinsiale rede beklemtoon het hoe belangrik die onderhoud van paaie in die provinsie is, het boere en hul werkers self in die warm son slaggate op die R708 tussen Bultfontein en Theunissen herstel.
“Ons pad is ongelooflik sleg, veral na Bultfontein se kant toe met reuse-slaggate van tot drie meter in deursnee waarin self vragmotors soms vasval. Saans is die pad lewensgevaarlik,” sê me. Estelle Pretorius, wat saam met haar man, Miekel, halfpad tussen die twee dorpe op die plaas Uitkoms boer.
Estelle, wat ook ’n DA-raadslid is, vertel dat ’n kontrakteur aan die begin van 2022 ’n kontrak van R7 miljoen by die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer gekry het om die pad te herstel. Die teerlagie wat hy gelê het, was te dun en is reeds weer stukkend gery. “Groot, oorlaaide vragmotors gebruik die pad om tolgeld op ander roetes te vermy.”