
Só sê mnr. Marthinus Stander, voorsitter van die braaikuikenorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), wat pas ’n versoek in dié verband aan dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, gerig het.
’n Kwota van 65 000 ton per jaar is in 2015 in onderhandelinge tussen die twee lande beding toe Amerika gedreig het om Suid-Afrika uit sy wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) te skop, ’n wet wat aan Afrika-ondernemings verskeie tariefvoordele vir uitvoer na Amerika bied.
Suid-Afrikaanse ondernemings in die staal- en motorbedryf het tot vroeër vanjaar groot Agoa-voordele geniet.
Stander sê die plaaslike pluimveebedryf was destyds bereid om die opoffering rakende die kwota te maak, selfs al het hy besef dat dit hom gaan seermaak.
“Die bedryf het dit gedoen ter wille van die groter saak, ter wille van onder meer die staal- en motorbedrywe.”
Die VSA het egter in Maart aangekondig dat hy voortaan invoertariewe op staal uit China en ander lande soos Suid-Afrika gaan hef, as deel van die uitvoering van pres. Donald Trump se “Amerika eerste”-verkiesingsbeloftes.
In wat nou as ’n handelsoorlog tussen die tweelande beskryf word, het China in reaksie sy eie tariewe op ingevoerde Amerikaanse produkte ingestel.
Stander sê volgens mediaberigte kan die Amerikaanse tariewe op Suid-Afrikaanse staal die plaaslike bedryf ’n groot knou toedien – dit bedreig 7 500 werkgeleenthede en kan tot verliese van R3,4 miljard lei.
Suid-Afrika kan egter hierop reageer deur die Amerikaanse kwota vir hoenderinvoer op te skort, omdat daar juis hiervoor voorsiening gemaak word in die beskrywing van die spesifieke rabatitem wat die Regering in Desember 2015 geskep het.
Stander sê dit is ’n tydelike rabatitem en dit word duidelik daarin gemeld dat dit opgeskort sal word as Suid-Afrika enige van die Agoa-voordele sou verloor wat hy voorheen geniet het.
Stander sê vir die opskorting om in werking te tree, moet Davies mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, skriftelik hieroor in kennis stel.
Die SAPV het dus ’n versoek aan Davies gestuur om juis dít te doen. Die vereniging vra dat die kwota met sy voordele opgeskort word vir so lank as wat Amerika invoertariewe op Suid-Afrikaanse staal hef.