
Amerikaanse hoender op SA se winkelrakke was verlede jaar omtrent so skaars soos hoendertande, maar 'n onlangse Facebook-foto wys dat dit nou op minstens Food Lover’s Market se rakke te koop is.
In Desember was Amerika naas Brasilië Suid-Afrika se tweede grootste bron van ingevoerde pluimveeprodukte. Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het 14,4% van invoer toe uit Amerika gekom.
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveeverenging (SAPV), sê die styging kan verband hou het met die voëlgriepverbod op die invoer uit sekere Europese lande, of dat die mark in Suid-Afrika nou genoeg vertroue in die produk gekry het.
Verteenwoordigers van die Amerikaanse bedryf het verlede jaar gesê dit gaan tyd neem om hul produk se beeld in Suid-Afrika op te bou en dat daar winkelgroepe was wat nie Amerikaanse hoender wou aankoop nie.
Altesame 65 000 ton Amerikaanse hoenderstukke aan die been mag sedert Januarie 2016 jaarliks sonder teenstortingstariewe ingevoer word. Die tarieftoegewing is gemaak sodat Suid-Afrika deel kon bly van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa). Minder hoender is egter ingevoer as wat verwag is.
Sosiale media
Ene mnr. Michael Basson het op 2 Maart 'n foto Amerikaanse hoender in Food Lover’s Market op Facebook geplaas. Hy het gevra dat mense boere red, die foto deel, en nie die produk koop nie.
Teen 15 Maart is die foto meer as 13 500 keer gedeel en het uiteenlopende kommentaar uitgelok. Sommige mense het met Basson saamgestem en gesê ingevoerde hoender benadeel werkgeleenthede en die ekonomie, maar ander het gesê hulle koop net volgens prys.
Voëlgriep
Suid-Afrika het intussen weens die aanmelding van hoogs patogeniese voëlgriep in Tennessee, Amerika, 'n verbod op pluimveeprodukte en dagoudkuikens uit dié staat ingestel. Dit is die enigste land waar Suid-Afrika se verbod net geld vir die streek waar die siekte aangemeld is - die toegewing was deel van die Agoa-ooreenkoms.
Volgens me. Makenosi Maroo, woordvoerder van die Departement van Bosbou, Landbou en Visserye, het 'n verbod op 14 Maart gegeld vir pluimveeprodukte uit Nederland, Duitsland, Pole, Hongarye, Frankryk, Brittanje, Spanje en Israel. 'n Verbod op Deense produkte is onlangs opgehef.
Maroo sê volgens 'n reël van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) kan 'n land sy voëlgriepvrye status herwin drie maande nadat 'n uitwissingsbeleid toegepas is en sekere voorskrifte nagekom is.