
Die DA se petisie teen voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000), wat deur meer as 113 000 mense onderteken is, sal vandag aan die parlement voorgelê word sodat elkeen wat dit onderteken het, se stem gehoor kan word, sê mnr. Andrew Whitfield, DA-LP.
Die voorgestelde wysigings het skerp kritiek vanuit verskeie oorde ontlok, veral aangesien dit die besit van ’n vuurwapen vir selfverdediging onwettig maak.
Whitfield sê die onlangse gewelddadige onluste en plundering wat soos ’n vloedgolf oor gedeeltes van KwaZulu-Natal en Gauteng gespoel het, bewys dat die polisie nie die vermoë het om misdaad te beheer nie. “Hierdie gebeure bevestig dat die drakoniese wapenwetgewing niks meer sal bereik nie as om die laaste linie van verdediging te verwyder vir wetsgehoorsame burgers wie se lewens deurlopend deur gewelddadige misdadigers bedreig word.”
Hy sê mnr. Bheki Cele, minister van polisie, moet die voorgestelde wysigings skrap aangesien dit nou duidelik is dat die polisie nie Suid-Afrikaners veilig kan hou nie.
“Die voorgestelde wysigings is ’n poging om wetsgehoorsame burgers te ontwapen sonder om die kernoorsake van die land se hoë voorkoms van geweldsmisdaad op te los. Sonder wapens sal Suid-Afrikaners se hande gebind wees wanneer hulle deur misdadigers gekonfronteer word aangesien die polisie eenvoudig te oorweldig is om gemeenskappe te beskerm. Dit is iets wat die DA nie kan toelaat nie.
“Die 113 000 Suid-Afrikaners wat hulle teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer uitgespreek het, se boodskap is duidelik: Hulle weier om deur die ANC-regering ontwapen te word.”