
SA Jagters het gister sy kommentaar op die voorgestelde wysigings ingedien. Dié wysigings is reeds vanuit verskeie oorde gekritiseer, veral aangesien dit die besit van ’n vuurwapen vir selfverdediging asook die herlaai van ammunisie onwettig maak.
Volgens Camphor is die bestaande wetgewing oor vuurwapens reeds lomp en ingewikkeld wat ’n groot administratiewe las op die polisie plaas om voldoening daaraan te verseker. “Dit is baie duidelik dat die voorgestelde wysigings voorsiening maak vir selfs meer beheer op vuurwapens en gevolglik sal dit nóg ingewikkelder, lomp en moeilik word om toe te pas.
“Dit is duidelik dat die bedoeling van die voorgestelde wysigings is om die wetgewing van bemagtigend na beperkend te verander.”
SA Jagters is veral bekommerd oor die volgende wysigings:
• Die herroeping van die reg om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit.
• Die beperking op die hoeveelheid vuurwapens en ammunisie wat ’n jagter of sportskieter mag besit.
• Die uitbreiding en herdefiniëring van ballistiese toetspraktyke wat onprakties is.
• Die verandering van bevoegdheidsvoldoening vir vuurwapeneienaars.
• ’n Verbod op die herlaai van ammunisie vir vuurwapeneienaars se eie gebruik.
• Die verwydering van die voorsiening vir private versamelaars.
Die vereniging konsulteer tans met ’n regspan oor regstappe wat teen die voorgestelde wetgewing gedoen kan word, indien nodig. “Ons hou die situasie fyn dop en sal, soos in 2009, aanhou om ons lede se regte, asook dié van wettige vuurwapeneienaars, te beskerm,” sê Camphor.
100 000 teken DA petisie
Intussen het die DA ook sy kommentaar ingedien op die “drakoniese” wysigings. Hy vra dat alle Suid-Afrikaners dieselfde doen. Die sperdatum vir kommentaar is Saterdag 31 Julie.
Mnr. Andrew Whitfield, DA-LP, sê die onlangse onluste het bewys dat mense hulself moet verdedig aangesien die polisie en ander wetstoepassers misluk het om gemeenskappe teen plundering en geweld te beskerm.
Die DA is ook bekommerd oor verskeie van die voorgestelde wysigings. Die party is bekommerd oor die verwydering van die vervalperiode op die diskwalifikasie van ’n persoon wat nie bevoeg is om ’n vuurwapen te besit nie, asook die mag wat dit vir mnr. Bheki Cele, minister van polisie, kan gee om ’n verbod op ammunisie te plaas of voor te skryf hoe sekuriteitsbeamptes vuurwapens mag dra.
Die DA is ook nie tevrede met die wysigings wat bepaal dat slegs drie vuurwapens sonder die nodige lisensie vervoer mag word nie en dat 100 pleks van 200 patrone per vuurwapen besit mag word.
“Terwyl die DA die noodsaaklikheid van streng vuurwapenbeheer en -lisensiëring steun, kan die party nie die wet in sy huidige formaat steun nie. Dit het verreikende gevolge nie net vir burgerlike veiligheid nie, maar ook ander bedrywe, soos beroepsjagters en die private sekuriteitsbedryf,” sê Whitfield.
Die DA moedig mense aan om kommentaar op die voorgestelde wysigings te stuur na comments.fcabill@csp.gov.zaen stopgunbill@da.org.za, asook om die DA se petisie te onderteken.
“Cele kan nie die 100 000 mense wat reeds die petisie onderteken het, ignoreer nie. Ook nie die verskeie besware wat deur die burgerlike sekretariaat gestel is nie.
“Cele het misluk in sy taak om die polisie te bemagtig om Suid-Afrikaners te beskerm en dien. Nou wil hy ons van verdere veiligheidsmaatreëls ontneem. Hy kan nie aanhou om wetsgehoorsame burgers te vervolg net omdat dit makliker is as sy eintlike werk om misdadigers te vang en gewone mense te beskerm nie.
“Indien die minister nie aan sy mandaat kan voldoen nie, moet hy afgedank word. Om gewone mense in misdadigers te verander weens Cele en die polisie se onbekwaamheid moes nooit deur pres. Cyril Ramaphosa toegelaat geword het nie.”