
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes is omstreek 15:50 in hegtenis geneem. Daar is ook op hul voertuig en die staalrame beslag gelê.
Volgens Mdhluli het die polisie ’n noodoproep van ’n plaas in die gebied ontvang. Met hul aankoms het hulle afgekom op ’n groep boere wat die vyf verdagtes in ’n wit Isuzu-bakkie omring het.
Die verdagtes is volgens die inligting wat aan die polisie verskaf is, op ’n plaas opgemerk. Die staalrame, wat glo van die plaas gebuit is, was teen daardie tyd reeds agter op hul bakkie.
Die verdagtes kon geen bewys van eienaarskap vir die staalrame lewer nie en is vir diefstal asook kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. Volgens Mdhluli kan verdere aanklagtes volg.
Die verdagtes sal in die Ogies-landdroshof verskyn sodra die nodige administratiewe werk voltooi is.
Vrystaat
Intussen het die polisie in die Vrystaat ’n stokkie voor ’n beoogde rooftog op ’n plaas by Reitz gesteek.
Adj.off. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê inligting oor ’n beoogde rooftog is Donderdag 6 Oktober ontvang. Terwyl die polisie op pad was na die toneel, het hulle verby ’n verdagte blou Mazda-sedan met Mpumalanga-nommerplate en vyf insittendes gery.
Die polisie het die voertuig deursoek en toerusting gevind wat vir huisbraak gebruik word. Al vyf insittendes is in hegtenis geneem.
Die vyf verdagtes, afkomstig van Vereeniging, Warden en Reitz en tussen die ouderdom van 25 en 30, sal in die Reitz-landdroshof verskyn op aanklagte van in besit wees van toerusting vir huisbraak. Die datum vir hul verskyning is nog nie bekend nie.