
Broodnodige reën kan in Suid-Afrika se winterreënvalgebied val, en ’n El Niño mag dalk net weer op pad wees.
Só voorspel die SA Weerdiens in sy jongste seisoenale klimaatvooruitskouing, tot September.
In die verslag word benadruk dat die reënvoorspelling vir die winterreënvalstreek in hierdie stadium nog met groot onsekerheid en ’n lae vertrouensindeks gepaard gaan.
Party modelle voorspel dat daar nog geen aanduiding is na watter kant toe reënval in dié streek die komende seisoen gaan beweeg nie.
“Daar is steeds aanduidings van ’n bogemiddelde reënval in die droogtegeteisterde suidwestelike dele van die land. Ongelukkig toon geen van hierdie voorspellings ’n hoë mate van vertroue aan nie, en moet dit dus versigtig benader word. Weens die negatiewe uitwerking van droër toestande wat dalk mag voorkom, moet planne inplek gestel word om só ’n scenario te verlig.”
Temperature
Wat temperature betref voorspel die meeste modelle ’n groter kans vir koeler toestande in die noordooste van die land, en warmer toestande in die suidweste.
Die Weerdiens doen nog geen amptelike vooruitskouing vir die komende somer, vanaf September/Oktober nie, maar die meeste modelle wys dat ’n El Niño dalk weer te wagte kan wees.
Die ENSO-indeks, wat op die stand van El Niño of La Niña dui, is tans geleidelik vanaf ’n koeler (La Niña) na ’n warmer (El Niño) fase aan die oorbeweeg. Dit word wel verwag dat dit vir die res van die eerste helfte van die jaar nog in ’n neutrale fase behoort te bly. Die modelle voorspel wel ’n toenemende kans op El Niño-oorheersing teen ons lente.
“Die vooruitskouing vir die lente en somer is nie gunstig wat reënval betref nie. As El Niño wel sou terugkeer, met sy gebruiklike gepaardgaande uitwerking (op somerreënval), kan die land opnuut in ’n water-penarie wees.”
Voorkomende maatreëls teen droogte is dus steeds nodig, waarsku die Weerdiens.