
Alvorens die plaaslike rooivleisbedryf homself as gerekende rolspeler in uitvoermarkte kan vestig moet die gehalte van sy produk, wat biosekuriteit en naspeurbaarheid insluit, voorrang geniet.
Dit was die boodskap van mnr. Don Heatley, voormalige voorsitter van Meat Livestock Australia (MLA) en bekende in rooivleiskringe, aan die plaaslike rooivleisbedryf op 'n werkwinkel van die rooivleisbedryfsforum (RMIF) Pretoria.
Alle rolspelers in die rooivleiswaardeketting is tydens die werkswinkel byeengebring om die pad vorentoe vir die plaaslike rooivleisbedryf te bespreek. Selfs die Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, het dit bygewoon (en na opruiende toesprake deur politici gekap.)
Hoewel Suid-Afrika, met ’n jaarlikse produksie van bykans ’n miljoen ton rooivleis per jaar, die dertiende grootste rooivleisprodusent ter wêreld is, dra die land slegs 1,55% tot die wêreld se rooivleisproduksie by. SA se rooivleisuitvoere is slegs 0,64% van die wêreldaandeel, oftewel 60 000 ton rooivleis uitgevoer.
Australiese uitvoer van rooivleis
In vergelyking hiermee produseer Australië meer as 2 miljoen ton rooivleis (3,43%), waarvan sowat die helfte uitgevoer is.
Heatley het gesê die Australiese model is nie perfek nie, maar dat die Australiërs heelwat lesse geleer het waarby Suid-Afrika kan baat vind. “Die model moet eerstens daarop geskoei wees om bemarking en ál die fasette wat daarmee gepaard gaan, soos kommunikasie, met navorsing te verbind in een liggaam wat namens die totale bedryf kan optree."
In Australië is dit MLA en dié organisasie se doelwit is eenvoudig: Help die rooivleisbedryf om meer geld te maak. Boonop bestaan die raad van direkteure uit vaardigheidsgedrewe personeel wat die vertroud is met internasionale handel en sy neigings, het hy gesê.
Pasop vir politiekery in organisasie
Heatley het ook gesê dat politiekery nie vatplek binne so organisasie mag hê nie. “Die Australiese regering is ’n vennoot in die rooivleisbedryf en finansier die MLA teen ’n dollar-vir-dollar grondslag. Kennelik is dit ’n wen-wen situasie vir die Australiese rooivleisbedryf wat, ten spyte van ’n vier-jaar lange droogte, steeds een van die vier grootste uitvoerders van rooivleis ter wêreld is."
Hy meen ook dat die oorskakeling vanaf ’n karkas-gradering na ’n snit-graderingstelsel ’n land die geleentheid bied om ’n premie vir sy produk te verkry. “Op hierdie manier verander die rooivleis wat uitgevoer word in ’n hoë-profiel produk en is dit nie meer net nog ’n kommoditeit nie. Vir Suid-Afrika kan dit goud werd wees om veral in die Midde-Oosterse markte homself te vestig as ’n verskaffer van hoë-gehalte rooivleis.” Die kwessie van naspeurbaarheid moet egter streng onder die loep geneem word, het Heatley gesê.
“Die naspeurbaarheid van rooivleis in Australië is totaal op wetenskaplike beginsels gevestig, met die grootste enkele fokus daarop om aan die verbruikers ’n produk te bied wat elke keer op standaard is. Onthou ook dat die inligting wat hierdeur vanaf die verbruiker verkry kan word van groot waarde is om jou bedryf na hulle behoeftes in te stel. Dit is tog op die ou einde die verbruiker wat die eintlike waarde vir die bedryf ontsluit en daarvan ’n volhoubare besigheid maak,” het hy gesê.