
Opposisiepartye het hul besware teen dele van die wetsontwerp op rekord geplaas. Die DA, EFF, IFP, Vryheidsfront Plus en ACDP het onder meer hul kommer te kenne gegee en die wetsontwerp selfs as “vernietigend” beskryf, maar terselfdertyd is dit deur die ANC geloof omdat dit “klarigheid gee oor hoe onteiening in die toekoms sal kan plaasvind”.
In sy huidige formaat laat die wetgewing onteiening toe wanneer dit in openbare belang is, soos uiteengesit in artikel 25 van die Grondwet.
Saam met die voorsiening wat gemaak word vir “regverdige en voldoende vergoeding” wanneer onteiening mag plaasvind, is daar ook nou die moontlikheid van nulvergoeding in spesifieke omstandighede. Dít mag insluit wanneer grond verlate staan, staatsgrond onteien word of wanneer grond vir spekulasie besit word.
Vrese
Vrese dat private eiendomsreg deur die wet in gedrang kan kom, is al verskeie kere uitgelig.
Mnr. Pieter Groenewald, leier van Vryheidsfront Plus, het Woensdag gesê die wet in sy huidige vorm moet eerder bekend staan as “die wet op vernietiging”. Hy het gewaarsku die prys wat daarvoor betaal gaan word, sal uiteindelik die land se ekonomie vernietig omdat private eienaarskap een van die pilare van demokrasie en die vryemarkekonomie is.
Me. Patricia de Lille, minister van openbare werke, het egter Woensdagaand gesê die wetgewing is nie uniek aan Suid-Afrika nie.
“Die wetgewing bring klarigheid vir almal en sal die proses van grondhervorming ondersteun. Onteiening sonder vergoeding is nie ’n wonderkuur nie. Onteiening is maar net een manier om eiendom te verkry wat in paslike gevalle en in die guns van openbare belang, grondhervorming en herverdeling daarvan moontlik maak.”
Sy het bygevoeg die wetgewing skryf ook nie voor dat “geen vergoeding” in genoemde gevalle sal geld nie.
Volgens haar sal vergoeding deur middel van ’n ooreenkoms tussen die staat en eienaars van die grond vasgestel word. Indien geen ooreenkoms bereik kan word nie, sal die hof daaroor moet besluit.
Sy het gewaarsku dit is gevaarlik om voor te hou dit sal die regering in staat stel om na willekeur mense se eiendom, soos private wonings, te neem.
Groenewald het De Lille egter uitgedaag om die wet in die Grondwethof te probeer beveg.
‘Eiendomsreg bedreig’
Volgens mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), word eiendomsreg deur die wet bedreig. “Steeds stoom die regering voort op ’n ideologiese pad, ongeag al die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar.”
Hy het sy organisasie se teleurstelling en bekommernis uitgespreek oor die nuus dat die nasionale vergadering ten gunste van die omstrede onteieningswetsontwerp gestem het.
“Ons waarsku al geruime tyd dat die aanvaarding van dié onteieningswetsontwerp in sy huidige vorm die weg sal baan vir verdere korrupsie op ’n skaal wat Suid-Afrika nog nie gesien het nie. Druk deur die regering om verdere mag te bekom om bates sonder vergoeding te kan onteien, gaan die land nog verder in die moeilikheid bring. Die huidige elektrisiteitskrisis en die bek-en-klouseeruitbreking in onder meer die Vrystaat is reeds wesenlike probleme wat ernstige gevolge vir voedselsekerheid inhou.”
Só vaar herverdeling van grond
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vandeesweek bekend gemaak dat 1,73 miljoen ha grond aan 1 672 opkomende boere toegeken is ingevolge die program om grond met kontrakte van 30 jaar aan opkomende boere te verhuur. Die program is al in 2020 begin as deel van die regering se pogings om herverdeling van grond te bespoedig.