Mnr. Lesole Mogorosi is ’n deeltydse boer van die plaas Slypklip by Kimberley. Sy aankoopprys van sowat R75 000 vir ’n ontbeende Wagyu-karkas is aan die omgewingsbeskermingstigting van die Groter Kruger-gebied (GKEPF) geskenk om in die regstreekse stryd teen stropers gebruik te word.
Mogorosi het dié karkas van ’n Wagyu-os van 440 kg op die eerste veiling van die Gesertifiseerde Wagyu-telersgroep by die Atterbury-teater in Pretoria aangeskaf. Hy het ook onder meer ’n swart Wagyu-vers (eerste kruising) van die AL5-Wagyu’s van Bloemfontein teen ’n rekordprys van R72 000 gekoop.
Kol. Otch Otto, die operasionele direkteur van die GKEPF, wat die skenking ontvang het, sê die stigting is in ’n oorlog teen stropers gewikkel. Die geld sal aangewend word om weeskalwers te red, gekweste diere te behandel en stropers te vervolg.
Die ses lede van die Gesertifiseerde Wagyu-telersgroep is mnre. Samuel Pauw (AL5-Wagyu), Johan en Louw de Bruin (Xariep-Wagyu), Jacques le Roux (Kobe-Wagyu), Andrew Scott (Winterberg), Johan du Plessis (Delta-Wagyu) en Brian Angus (Woodview).