
Net meer as ’n jaar nadat dit in Junie 2020 gestig is, het die Protea Reserve Wagyu Company (PRWC) die eerste plek in die beesvleiskompetisie van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging en Alfa-ekspo behaal.
Die beesvleis se geur, sappigheid, sagtheid, algehele smaak en marmering is beoordeel met ’n negepuntskaal wat deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sensoriese-analiselaboratorium ontwikkel is.
In ’n video sê mnr. Dewald Olivier, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, die gehalte van die vleis wat vir die 2021-kompetisie ingeskryf is, is “ongelooflik” en dat sy vereniging trots is op PRWC, asook op die Wagyu-ras in Suid-Afrika.
Hy sê die vereniging gee nie voorkeur aan enige spesifieke dier of ras nie. Voerkrale koop die beeste aan wat die beste aan hul vereistes voldoen. Boere wat aan die kompetisie deelneem, kry gratis inligting van die UV om vir hulle te verduidelik wat die eienskappe van hul beesvleis is.
Mnr. Andries Schutte, waarnemende besturende direkteur van PRWC, sê in die video dat sy maatskappy gesamentlik deur agt Suid-Afrikaanse Wagyu-produsente gestig is met die doel om ’n groter impak op nasionale en internasionale markte te maak. Die deelname aan die kompetisie was ’n manier om onafhanklike wetenskaplike bewyse van die gehalte van PRWC se beesvleis te verkry en dit dan aan daardie markte beskikbaar te stel.
“Ons is nog in ons kinderskoene in Suid-Afrika met Wagyu, maar ons wil vir vleisbeesboere wys, veral dié wat marginaal is, dat die Wagyu ’n premie op die plaas kan genereer. Daar is ’n ongelooflike vraag na Wagyu-beesvleis internasionaal.”
Prof. Arno Hugo, ’n diere-, vleis- en voedselwetenskapkundige by die UV, sê PRWC se beesvleis was die beste graangevoerde en algehele wenner in die kompetisie. Dit was van ’n F1-Wagyu-kruising. Die beste veldvleis was van ’n Afrikaner wat deur Boshoff Afribeef ingeskryf is. Dit is algeheel derde geplaas.