Boonop het die stadsraad nou nog nie gehoor gegee aan ’n hofbevel in November dat die stadsraad R18 miljoen moet oorbetaal aan die mark vir broodnodige instandhouding nie. Die omset op die Tshwane-varsproduktemark is jaarliks sowat R3,2 miljard waaruit R15 miljoen per maand aan die munisipaliteit oorbetaal word as huur.
“As die munisipaliteit net 2% daarvan terugploeg in die mark, sal daar nie meer probleme soos hierdie wees nie,” sê me. Theresa Fredericks, bestuurslid van die Instituut vir Markagente in Suid-Afrika.
Kragtoevoer na die mark is afgesny ná ’n substasie daar naby op 19 Januarie onder vandalisme deurgeloop het. Teen druktyd (30 Januarie) was die situasie gedeeltelik opgelos, en die instituut was besig om deur middel van sy lede hul finale verliese te bepaal. Die skade sou van die munisipaliteit teruggeëis word.