
Mathews het sy voorsittersverslag tydens Graan SA se kongres op Nampo-park buite Bothaville op ’n optimistiese noot begin, ten spyte van al die probleme wat boere in die gesig staar, soos hoë insetkoste en daaglikse probleme om te kan boer. “Ons sit met ’n mooi somergraanoes op die lande, ten spyte van vloede en wisselvallige reënval reg oor die somerreënstreek.
“En, ja, natuurlik sukkel ons met korrupsie, natuurlik sukkel ons met swak paaie, natuurlik sukkel ons met elektrisiteit en beurtkrag,” maar daar is nog planne te maak, het Mathews opgemerk.
Mathews het die hoop wat hy steeds vir Suid-Afrika het, onderstreep deur mnr. Kallie Schoeman, besturende direkteur van die Schoeman-groep, se boodskap op verskeie geleenthede verlede jaar aan te haal. Schoeman het gesê: “Wanneer die mense lei, sal die regering volg.”
“Ons sien reeds dat dit in Suid-Afrika gebeur,” het Mathews gesê. Hiermee verwys hy na die belastingkorting wat in die begrotingsrede aangekondig is vir individue en besighede wat in alternatiewe energie en sonkragpanele belê. “Die regering het nie ’n ander keuse as om ’n geleentheid te skep vir die bevolking van Suid-Afrika om na hul eie toekoms om te sien nie. Hoe vinniger ons besef dat ons ons heil in ons eie hande moet neem, hoe vinniger sal dit beter gaan.”
Wat doen Graan SA vir my?
Mathews het gesê hy kry gereeld vrae van boere, lede van Graan SA en nie-lede van die organisasie, oor wat Graan SA dan nou eintlik doen. Graan SA se personeel en bestuur het die afgelope jaar 485 695 km afgelê om onder meer hul lede te bereik, en die uitvoerende bestuur het altesaam 96 vergaderings bygewoon waar graanboere se belange verteenwoordig is. Die gemiddelde tyd vir elke vergadering was 4,8 uur.
En wat bereik hulle met die kilometers afgelê en tyd en geld bestee? Mathews het die volgende belangrike kwessies uitgelig:
- Deelname aan vergaderings om insette te gee oor navorsing vir nuwe saadtegnologie vir sojabone, koring en mielies.
- Deelname aan sessies oor navorsing oor verskeie gewassiektes soos Sclerotinia, die stigting van ’n diagnostiese kliniek, ’n instelling waarheen ’n boer enige navorsingsvraag kan stuur vir meer inligting en hulp, en dan het Graan SA saam met die regering ’n biosekerheidsentrum op die been gebring vir die graanbedryf.
- Graan SA vergader gereeld met belanghebbendes om druk toe te pas om die situasie rondom die tekort aan kanolasaad op te los.
- Wat die dieselrabat betref, het Mathews gesê, ja, boere sê dis ’n holgeryde perd maar, “dan wil ek vra of ons dit maar kan laat afskaf. Die tesourie en die inkomstediens kyk kort-kort krities daarna en dis baie belangrik dat ons aan daardie tafel sit en boere se inset lewer om seker te maak dit bly behoue.”
- Mathews het gesê nadat Sasria ongelooflik hoë premies wou instel ná die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng in 2021, kon Graan SA help druk toepas met gesprekke en onderhandelings vir goedkoper premies vir landboutoerusting.
- Graan SA het die afgelope jaar Foskor besoek en druk daar help toepas om te help seker maak kunsmisprodukte kom uit waar dit nodig is om sodoende beter voorrade te bewerkstelling wat uiteindelik gehelp het om pryse te laat daal.
- Die organisasie het ook deelgeneem aan verskeie prosesse en vergaderings oor mieliegradering. Mathews het gesê hoewel daar nog nie uitsluitsel is nie en al moet die onderskeie belanghebbendes steeds met mekaar skakel om seker te maak vordering word gemaak, sal Graan SA voortgaan om deel te neem en druk toe te pas tot voordeel van boere. “En ons moet dit as ’n bedryf saam oplos, daar’s nie ’n manier dat ons nie mekaar nodig het nie.”
- Mathews het ook verwys na die proses rondom die alternatiewe model vir die liggingsdifferensiaal waarmee groot vordering gemaak is. Sedert 1 Maart word ’n alternatiewe liggingsdifferensiaal toegepas vir sojabone vir ’n toetsperiode van twee jaar. As die model goed werk, kan dit vir ander gewasse ingestel word. “Hierdie vordering is gemaak met jare lange volgehoue werk en druk deur Graan SA en dis vordering waarop ons trots is.”
Mathews het Graan SA se lede gerusgestel dat die organisasie sal voortgaan met sy werk om ekonomies gesonde graanproduksie in Suid-Afrika te bevorder om bekostigbare voedsel op mense se tafels te plaas. “Ek kan eerstehands getuig dat ’n geïnspireerde Graan SA-span voortdurend elke moontlike oplossing ondersoek vir die probleme wat produsente in die gesig staar, en daarvoor sê ons dankie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.