
Ramaphosa het gereageer op sake- en maatskaplike kommer oor toenemende groot ontwrigtings in die land se kragvoorsiening en Suid-Afrika se hoogste brandstofpryse in sy geskiedenis.
Mnr. Deane Rossler, uitvoerende hoof van Sasma, sê produkte wat uit die land se suikerrietverwerkingsektor afkomstig is, sluit nie net suiker in nie. Daar is ook die melasse wat gebruik word om drinkbare en nywerheidsalkohol, ander chemikalieë en baie veevoere te vervaardig.
Suikerrietmeule gebruik ook die gedroogde oorblyfsels van verwerkte suikerrietstronke, genaamd bagasse, as brandbare stof om elke meul se eie stoom- en kragbehoeftes op te wek. In die afwesigheid van betekenisvolle afname-ooreenkomste en voldoende motiverende kooppryse, het verkope van enige oortollige gegenereerde krag vanaf suikerrietmeule aan die sukkelende nasionale netwerk, tot op hede baie beperk gebly.
Suid-Afrika se hoofsuikerrietwaardeketting het lank reeds beklemtoon dat, met geteikende belegging en wysigings, die meeste van sy meule die potensiaal het om hul kraguitset wat uit hernubare bagasse gegenereer word, aansienlik te verhoog. Hierdie waardeketting het ook die potensiaal om biobrandstof op kommersiële skaal te vervaardig. Dit kan help om nasionale afhanklikheid van ingevoerde fossielbrandstowwe te verminder.
“Die gebrek aan ’n regulatoriese en voldoende aansporingsraamwerk, tesame met die ekonomie van die vervaardiging van hierdie energie-produkte uit hernubare suikerriet, het tot dusver nie tot lewensvatbare projekte gelei nie. Sommige ander suikerproduserende lande, soos Brasilië en Indië, het bykomende inkomstestrome bo en behalwe suiker, soos elektrisiteit en biobrandstof,” sê Rossler.
Hy voeg by dat Suid-Afrika se suikerrietbedryf saam met die regering, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en akademiese instellings aansienlike hulpbronne verbind om verskeie waardetoevoegingsopsies tot suikerriet te ondersoek as deel van die Suikerriet-waardekettingmeesterplan. Dit is noodsaaklik dat sulke opsies voordele genereer wat meer is as die waarde van Suid-Afrika se oortollige suiker wat tans na die verliesmakende wêreldmark uitgevoer moet word.
“Sasma neem aan dat kragopwekking uit suikerrietbiomassa nie uitgesluit word om voordeel te trek uit president Ramaphosa se aankondiging oor verdere deregulering van die kragmark nie,” sê Rossler.
Landbou.com het onlangs berig dat die Suid-Afrikaanse Boere-ontwikkelingsvereniging (Safda), waarvan die ledetal glo uit talle kleinskaalse swart suikerrietkwekers bestaan, voortgaan met uitvoerbaarheidstudies oor die potensiaal om een of meer suikerrietbioraffinaderye in die land te vestig. Kleinskaalse swart suikerrietkwekers sal aandeelhouers in hul plaaslike bioraffinadery wees, Safda sal die aanleg bestuur, en alle belanghebbendes sal groter inkomste verkry uit waardetoevoeging tot suikerriet bo en behalwe die bestaande produkte daarvan.