
Op ’n onlangse webinaar van die landboumaatskappy Bayer het me. Inci Danneberg, wat aan die hoof van Bayer se groentesaadafdeling wêreldwyd staan, ’n paneelbespreking gelei waartydens kenners gepraat het oor die rol wat vars produkte in die wêreld se voedingskrisis kan speel.
Net ’n klein deel van die wêreldbevolking eet genoeg vars produkte sodat hul eetpatroon as ’n gesonde dieet beskou kan word, het sy gesê. In die ontwikkelde wêreld lê die probleem nie soseer by ’n gebrek aan toegang tot gesonde kos of die bekostigbaarheid daarvan nie, maar by smaak.
Daarom, volgens mnr. Paul Mastronardi van Mastronardi Produce, ’n familie-onderneming wat al sedert die 1940’s groente in kweekhuise verbou, is dié boerdery deesdae hard op soek na die smaaklikste groentekultivars.
“Ons hindernis is nie volume of klimaat nie. Ons kan in 12 maande van die jaar produseer wat ons wil en soveel soos ons wil omdat ons die klimaat in ons kweekhuise kan beheer. Ons probleem is kieskierige verbruikers. Ons moet groentekultivars kweek wat in hul smaak val om hulle te kry om meer vars produkte te eet.”
NUWE EETPATRONE
Me. Barbara Bray, direkteur van die voedselkundige konsultasiemaatskappy Alo Solutions in Brittanje, het gesê die probleem onder verbruikers in die ontwikkelde wêreld lê in die gerief van kitskos en die gejaagdheid van die samelewing. Die covid-19-pandemie het wel moontlik ’n verbetering in die meeste ontwikkelde lande se eetpatrone teweeggebring.
“In Brittanje het die restaurantsektor skade gely en mense kan nie so baie uiteet soos in die verlede nie. Dit het mense gedwing om etes te beplan en vir hulself te kook, pleks van vinnige versnaperinge in die verbygaan op te raap.
“Daar het ook talle boksskemas opgeduik wat weekliks of selfs daagliks ’n verskeidenheid vars produkte in afleweringsbokse by verbruikers se huise afgelaai het. Baie hiervan het ook resepte bygehad. Dit het mense wat nooit behoorlik leer kook het nie, bemagtig.”
In die ontwikkelende wêreld is dit egter ander realiteite wat groente skraps hou op verbruikers se borde.
ANDER REALITEITE
Dr. Shoshan Haran, stigter van die nieregeringsorganisasie Fair Planet wat opleiding aan kleinboere in ontwikkelende lande verskaf, het gesê terwyl verbruikers in ontwikkelde lande hul neus optrek vir groente wat nie in hul smaak val nie, sal die meeste verbruikers in die ontwikkelde wêreld hul voortande gee vir dieselfde groente.
“In laasgenoemde is ontoereikende tegnologie, veral ten opsigte van saad, saam met verouderde landboupraktyke die grootste struikelblokke. In Amerika eet elke mens gemiddeld een tamatie per dag, terwyl Ethiopië se 120 miljoen inwoners elkeen net twee tamaties per jaar eet. In Ethiopië is die probleem beskikbaarheid, nie verbruikersgiere of voorkeure nie.”
Haar organisasie het saam met Bayer en sewe ander saadmaatskappye die inisiatief Bridging the Seed Gap op die been gebring waardeur hulle streef om die beste saad vir verskillende boere se grond-, geografiese- en klimaatbehoeftes beskikbaar te stel.
Boere word opgelei in landboupraktyke vir optimale opbrengste met die beskikbare hulpbronne in hul omgewings.
Party boere in Ethiopië het dit reggekry om op dieselfde grond vyf keer meer tamaties te produseer as voorheen en by ander gewasse hul opbrengs twee tot sewe maal te verbeter, volgens Haran.
Kleinboere produseer die kos wat 80% van die ontwikkelende wêreld se bevolking voed. Dit is dus noodsaaklik om hierdie boere se opbrengste en gehalte te verbeter om ’n verbetering in dié lande se eetpatrone te maak.