
Dit volg ná die uitspraak in Mei in die
Grondwethof waarvolgens diegene wat nie hul vuurwapenlisensies betyds hernu het
nie en daarna verbied is om ’n geldige lisensie te bekom, weer toegelaat moet
word om die prosesse ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van
2000) te volg om weer ’n geldige lisensie te bekom. (Lees hier meer daaroor by bit.ly/3yKSEYW). Dit volg na ’n hofgeding tussen die polisie en die
sekuriteitsmaatskappy Fidelity Security Services.
Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildsbewaringsvereniging, het die aankondiging verwelkom. Hy sê die direktief is ’n verligting vir nagenoeg ’n halfmiljoen vuurwapeneienaars wat nie hul vuurwapenlisensies betyds hernu het nie.
“Hulle is nie misdadigers nie. Hulle is in die meeste gevalle verantwoordelike vuurwapeneienaars wat net vergeet het om hul lisensies betyds te hernu. Die polisie se houding oor die afgelope 15 jaar jeens vuurwapeneienaars het hulle in ’n ongemaklike posisie geplaas aangesien hulle tereggestaan het op strafregtelike klagte.”
Mnr. Marin Hood, ’n prokureur en kundige rondom vuurwapenaangeleenthede, het op sy praktyk MJ Hood & Associates se Facebookblad kommentaar op die direktief gelewer en gesê die direktief moet geprys word vir die toekomsgerigte, progressiewe en pragmatiese benadering daarvan.
“Erkenning moet gegee word aan die polisie wat, intern, goed bewus is van die probleme wat maklik kon voortspruit uit die toepassing van die Fidelity-uitspraak.”
Hy bedank ook die nuwe nasionale kommissaris, genl. Sehlahle Fannie Masemola, en sy span, insluitend lede van die sentrale vuurwapenregister, wat hard aan die direktief gewerk het.
Hood maan egter vuurwapeneienaars om te doen wat vereis word en seker te maak die proses word gevolg en dat ander vuurwapeneienaars dit ook volg.
“Ons moet nie die proses misbruik nie. Wanneer die sertifikaat vir veilige bewaring aan jou uitgereik word, beteken dit die vuurwapen moet toegesluit wees en nie gebruik word nie.
“Onthou, die prosedure kan verander word indien dit misbruik word.”
Vereistes
Eienaars met handvuurwapens wie se vuurwapenlisensies (seksie 13) slegs vir vyf jaar geldig was, is meestal geraak.
Die direktief is slegs gemik op eienaars wat aansoek doen om nuwe lisensies. Aansoekers sal nou die vuurwapen waarvoor hulle die nuwe lisensie vereis, saam met die vervalle lisensie na die aangewese vuurwapenbeampte by die naaste polisiekantoor moet bring vir inspeksie en om dit geldig te verklaar. Die beampte sal dan ’n verifikasiesertifikaat uitreik wat onderteken is deur beide die aansoeker en die beampte, waarvandaan die vuurwapeneienaar die vuurwapen huis toe neem en bêre in ’n goedgekeurde kluis soos bepaal deur die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Die aansoeker sal aan dieselfde vereistes moet voldoen wat vereis word vir ’n aansoek om ’n lisensie vir ’n nuwe vuurwapen, wat ’n geldige bevoegdheidsertifikaat insluit.
Die direktief is ook van toepassing op ’n bestorwe boedel. Daarvolgens moet ’n afskrif van die eksekuteur se brief en ’n afskrif van die lisensie of ’n identiteitsdokument van die afgestorwene aangeheg word. Die aansoek sal dan hanteer word volgens die normale boedelaansoekroete.
Camphor is egter bekommerd dat die polisie nie die nodige kapasiteit het om al die aansoeke te verwerk nie. Die direktief wat aan die polisiekantore uitgereik is, is duidelik oor die instruksies rondom die proses en die tydslyne waaraan die beamptes en die sentrale vuurwapenrigister moet voldoen wanneer hulle die aansoeke hanteer.
Met die groot agterstand in die stelsel sal ons moet sien of die aangewese vuurwapenbeamptes en veral die sentrale vuurwapenregister die voorgeskrewe proses en spertye sal kan volg, sê Camphor.