Wolpryse het vir ’n tweede agtereenvolgende week gedaal toe die hoë prysvlakke van die afgelope weke sy tol geëis het en Cape Wools se Merino-aanwyser 3% laer op R65,28/kg (skoon) gesluit het.
Die aanwyser is egter steeds 13% hoër as die openingsveiling van die seisoen.
Kopers sê ’n afwaartse regstelling was te wagte in die lig van die skerp styging in pryse oor ’n betreklike kort tydperk. Die aanwyser het in die ses weke van die begin van Oktober af tot die tweede week in November met 18% gestyg.
Hoewel die pryse van die meeste langwoltipes gedaal het, het die pryse van wol van 19 mikron en fyner hul opwaarste neiging voortgesit.
’n Totaal van 8 542 bale is aangebied waarvan 94% verkoop is.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron styg met 1,4% tot R87,29/kg, 20 mikron verswak met 3,2% tot R68,98/kg, 21 mikron daal met 2,2% tot R65,88/kg en 22 mikron was 3,8% goedkoper op R62,49/kg.
Sowat 11 500 bale sal volgende week aangebied word. Die laaste veiling voor die Kersreses is vir 8 Desember geskeduleer.
24 November 2010