
Wilken sê die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur het op 7 September die Onteieningswetsontwerp goedgekeur sonder om openbare insette daaroor noukeurig te oorweeg.
“Hierdie wetsontwerp, wat nou aan die nasionale raad van provinsies en die parlement voorgelê sal word, het verreikende gevolge vir elke burger. Vrystaat Landbou se grootste bekommernis is dat die wetsontwerp onteiening sonder vergoeding van enige bate in die hande van die regering en sy staatsamptenare sal toelaat en die mag sal vestig. Die wetsontwerp sal verder die las op die eienaar plaas om sy of haar regte op eie koste te verdedig.”
Hy meen die Onteieningswetsontwerp is ’n onderduimse poging om ’n de facto-wysiging van Artikel 25 van die Grondwet te bewerkstellig, iets wat die regering gedurende 2021 nie kon regkry nie. Die enigste verskil is dat die ANC nou net ’n gewone meerderheid nodig het om hierdie wetsontwerp te aanvaar.
Volgens Wilken het Vrystaat Landbou meer as 120 000 insette teen hierdie wetsontwerp ingesamel benewens die honderdduisende insette van ander organisasies en lede van die publiek. “Dit is nou vir ons duidelik dat die regering hierdie insette geïgnoreer het. Geen van die bekommernisse wat deur die georganiseerde landbou, opposisiepartye en die burgerlike samelewing geopper is, is in die problematiese afdelings van die Onteieningswetsontwerp weerspieël nie.
“Vrystaat Landbou sal enige optrede ondersteun wat daarop gemik is om die spesifieke klousules wat ons bekommer, as ongrondwetlik te verklaar.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.