Munisipaliteite se skuld by waterrade beloop tans R1,56 miljard, met sowat R850 miljoen wat vir jare al agterstallig is, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring is dié statistiek deur me. Buyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, in antwoord op ‘n vraag in die Parlement bekend gemaak.
Volgens die statistiek het munisipaliteite se rekeninge aan waterrade die afgelope jaar met meer as R400 miljoen gegroei. Die party sê hy monitor dié situasie al vir jare, maar niks daadwerklik word aan daaraan gedoen nie.
“Oor dieselfde tydperk het die DA die Nasionale Tesourie versoek om op te tree en seker te maak munisipaliteite vereffen hul skuld. Geen vordering word egter gemaak nie,” lui die verklaring.
Die probleme
Die minister het in antwoord op die vraag ook vir die eerste keer bekend gemaak hoeveel geld watter munisipaliteite skuld. Die Bushbuckridge-munisipaliteit skuld Bushbuckridge Water sowat R160 miljoen en die Mopani-distriksmunisipaliteit skuld Lepelle Noord meer as R155 miljoen.
In stede, soos Bloemfontein, skuld die Mangaung-munisipaliteit Bloem Water R32 miljoen, terwyl die Tshwane-munisipaliteit Rand Water R24 miljoen skuld. Die Msunduzi-munisipaliteit (Pietermaritzburg) skuld Umgeni Water R22 miljoen.
Die DA sê nie alle waterrade word egter deur sulke ernstige skuld geraak nie. Overberg Water sê byvoorbeeld geen geld word aan hulle geskuld nie, terwyl slegs klein bedrae aan die Amatola- en Pelladrift-waterrade geskuld word.
Standaarde van rioolwerke
Intussen is die DA van plan om met behulp van die Wet op die Reg van Toegang tot Inligting te bepaal watter van die land se munisipaliteite se rioolwerke nie die nodige permitte en lisensies het nie. Die party sê hy het die kwessie reeds ‘n jaar gelede al met die minister begin bespreek.
Hy sê daarby weier Sonjica glo om die inligting oor watter munisipaliteite riool in water stort bekend te maak. Volgens die party wil hy met behulp van die wet bepaal watter munisipaliteite nie aan die standaarde voldoen nie, sodat die besoedeling van water gestop kan word.
17 September 2010