Die departement van water en sanitasie se voorgestelde waterprysstrategie, wat op 5 Augustus vir kommentaar gepubliseer is, gaan mank aan ’n behoorlike ontleding van wat die uitvoering daarvan die landbou, asook die groter ekonomie en die samelewing gaan kos, sê Agri SA.
Die huidige strategie is al in 2007 opgestel en dit was dus lankal tyd vir ’n hersiening, maar die voorgestelde strategie, waarop kommentaar tot 3 November by die departement ingedien kon word, bevat elemente wat hom baie bekommerd maak, sê mnr. Janse Rabie, uitvoerende beampte vir wetgewing en beleid by Agri SA.
“Dit is grondwetlik noodsaaklik om ’n omvattende fiskale en maatskaplik-ekonomiese beoordeling (by die strategie) in te sluit om alle watergebruikers in te lig oor die presiese uitwerking van die waterprysstrategie,” luidens Agri SA se kommentaar.