Besproeiingsboere en myne is die groot sondaars met die onwettige gebruik van water, sê die Departement van Waterwese en Omgewingsake.
Stappe word gedoen om die probleem op te los, maar dit is duur, ingewikkeld en tydrowend, sê mnr. Helgard Muller, waarnemende hoofdirekteur vir regulasies by Waterwese. Daar word gereken dat tot soveel as 190 miljoen kubieke meter water onwettig in die bolope van die Vaalrivier per jaar gebruik word.
Muller het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir waterwese en omgewingsake gesê besproeiingsboere is die grootste verbruikers van water. Volgens hom is daar egter boere wat meer water gebruik as waarop hulle geregtig is.
Waterwese kan eers ’n finale besluit oor die wettigheid van die waterverbruik neem nadat ’n verifiëringsproses op ’n eiendom gedoen is. “Geen regstappe kan gedoen word totdat die proses voltooi is nie.”
Sedert die begin van vanjaar tot Junie is 264 bevele vir die onwettige gebruik van water deur myne, die landbou en ander sektore uitgereik. In dieselfde tydperk is 97 bevele uitgereik en sewe sake na die Watertribunaal verwys. Altesame 23 sake is by die polisie aangemeld.
Slegs 44% van die watergebruikers is geverifieer. Volgens Muller kan dit tot twee jaar duur om vas te stel wie water onregmatig gebruik.
Dit is egter nie net ten opsigte van die onwettige verbruik van besproeiingswater waar die departement se hande afgekap is nie.
Myne wat onwettig water gebruik, wend hulle tot die hof om ’n interdik teen Waterwese te kry sodat hulle kan voortgaan met hul bedrywighede. Daar is sowat 125 myne wat sonder waterlisensies myn.
31 Augustus 2010