
Die
departement hou landwyd vergaderings vir openbare raadpleging oor sy
voorgestelde beleid rakende die verskaffing van water- en sanitasiedienste op private
grond.
Op so ’n vergadering gister (2 Februarie) op Oudtshoorn het boere luidens ’n verklaring deur die departement baie kwessies geopper oor wat reeds gebeur en wat nog verder gedoen kan word.
“Mnr. André Swart, ’n aarbeiboer van George, het gesê hulle verskaf reeds water en sanitasie aan hul werkers, maar meer moet nog gedoen word,” sê die departement.
Die vergadering is benewens boere ook bygewoon deur onder andere plaaswerkers, en verteenwoordigers van geloofsgemeenskappe en nieregeringsorganisasies.
Die voorgestelde beleid is verlede jaar gepubliseer ná ’n hofuitspraak wat gelui het dat munisipaliteite misluk om aan plaasbewoners en huurarbeiders binne hul jurisdiksiegebiede toegang te gee tot basiese sanitasie, voldoende water en vullisverwydering.
Die departement sê om waterdienste aan bewoners op private grond te verskaf, behels ’n wye reeks stappe, waarvan baie deur beleid gerig moet word.
Mnr. Siboniso Ndlovu, ’n amptenaar van die departement, het op die vergadering gesê die voorgestelde beleid is daarop gerig om ’n magtigende, regulatoriese omgewing tot stand te bring. Die voorsiening van die dienste sal volgens hom waardigheid ten opsigte van water en sanitasie vir die betrokke grondbewoners bring.
Doen dit eerder só, sê boer
Swart het aan Landbou.com gesê hy het ná die vergadering kommentaar en voorstelle aan die departement gestuur.
Hierin sê hy onder meer: “Dit is hartseer om te besef dat Suid-Afrika wetgewing nodig het om te verseker dat almal in die land toegang het tot water en basiese sanitasie.
“As ’n kommersiële boer, en om plaaslik en internasionaal te kan handel dryf, moet ons sulke dienste beskikbaar stel aan bewoners, werknemers en huurders op die plaas.”
Onder die talle voorstelle wat hy maak, is dat die departement eerder deur organisasies werk wat reeds voorskrifte het rakende onder meer die beskikbaarheid van drinkbare water en basiese sanitasiedienste waar kos geproduseer word, as om nakoming te probeer monitor.
Dit sluit Sustainability Initiative of South Africa (Siza), GlobalGAP, LocalGAP en kettingwinkelgroepe in.
Swart stel ook voor dat watergebruikers- en toerisme-organisasies betrek word.
Hy sê dis belangrik dat die departement ’n opname te doen om te weet wat die huidige situasie is en hy doen voorstelle oor hoe boere, onder meer deur subsidies, gehelp kan word om sulke dienste te lewer.
Lees meer in ’n volgende uitgawe van Landbouweekblad oor Swart se voorstelle.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.