
Met die Wes-Kaap wat elke denkbare plan uit die hoed ruk om Dag Zero te probeer voorkom, sal die landbou wat ’n groot waterverbruiker is, ook sy deel moet doen. Teen 15 Januarie het die landbou reeds 44,1 miljoen kubieke meter van sy geprojekteerde jaarlikse teiken van 58,8 miljoen kubieke meter water (wat reeds 'n beperking van 60% verteenwoordig) verbruik. Stedelike huishoudings het teen daardie tyd 48,8 miljoen kubieke meter van die geprojekteerde jaarlikse teiken van 192,1 miljoen kubieke meter water verbruik.
Mnr. Trevor Balzer, adjunkdirekteur-generaal by die Departement van Water en Sanitasie, het aan Landbouweekblad gesê daar word verwag dat boere vrywillig gaan ophou water pomp wanneer hul kwota bereik is. “Maar as hulle dit nie doen nie, sal ons hul pompe seël om hulle te verhinder om water uit die rivier te pomp.” Die departement sal met die instemming van die georganiseerde landbou die toevoer afsny.
Dit beteken egter nie dat daardie boere nie water het nie. Van die boere het opgebergde water en sommige het toegang tot boorgate. Balzer het aangedui dat daar reeds begin is om water af te sny langs die Bergrivier en Riviersonderend.
“Sedert ons die beperkings ingestel het om die stelsel te beskerm, het die landbou en die huishoudelike verbruiker hul toewysings oorskry.”
Dit het veroorsaak dat die departement sy stelselanalise weer moes doen en vir die nuwe jaar is nuwe beperkings ingestel.
Balzer sê met die beperkingsvlakke wat verlede Desember ingestel is, het die departement die landbou gedwing om water van die vorige hidrologiese jaar oor te dra. “Van die 58,8 miljoen kubieke meter water wat ons aan die landbou toegestaan het, is van die water wat boere in die vorige hidrologiese jaar verbruik het en daarom het hulle hul beperking so vinnig bereik.”
Wat beteken dit as water afgesny word?
Daardie boere kry water van die hoofdamme, sê Balzer. “Ons laat water vry in die rivier en boere is gemagtig om daardie water in hul damme te pomp.
“Ons sal dit afsny en uitgaan en seker maak dat boere nie hul pompe gebruik om meer water te onttrek nie. Dit is deel van ons wetstoepassingveldtog.” Daar is tans 20 wetstoepassers wat inspeksie doen en oor die volgende week of twee sal hierdie getal waarskynlik toeneem.
Hy sê Agri SA, wat baie van die boere langs die Bergrivier verteenwoordig, het hom daartoe verbind om die departement te help om seker te maak dat daar nie van “magstaktiek” gebruik gemaak hoef te word om voldoening te verseker nie.
Me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, het gesê dat verdere waterbeperkings is op 12 Januarie vir die Breede-Gouritz- en die Berg-Olifantswaterbestuurgebiede in die Staatskoerant gepubliseer.
Die onttrekking van grondwater vir huishoudelike en industriële verbruik is tot 45% en vir die landbousektor tot 60% beperk. Sy het benadruk dat water vir besproeiing net toegelaat sal word totdat die seisoenaal toegestane volumes uit die damme opgebruik is.