Agri SA raai sy lede aan om verlede jaar se watertariewe en ’n inflasie-aanpassing in ag te neem in hul berekenings rakende die verwagte tariefaanpassing vir 2011/’12. Dit was die komitee gemoeid met watertariewe se voorstel nadat geen terugvoer van die Departement van Waterwese en Omgewingsake nog ontvang is nie.
Die komitee het ’n moratorium op dié tariewe voorgestel totdat die kwessies met die sloering van die oordrag van waterregte uitgesorteer is. Die departement het egter nié op die voorstel reageer nie.
“Uiters besorg”
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle is uiters besorg oor die oordrag van waterregte wat nie tydig afgehandel word nie, veral ten opsigte van besproeiingsboerdery.
“Die Regering bly sê ons moet ’n groter rol speel in werkskepping en verhoogde voedselproduksie, maar aan die anderkant word die oordrag van waterregte vir veral besproeiingsboere nie afgehandel nie,” sê Möller. “Die Regering moet nie een ding sê, maar wat hulle doen, het ’n ander tot gevolg nie.”
Möller sê al hul lede wat deur die kwessies en die tariefverhoging geraak word, asook die departement, sal oor die voorstel ten opsigte van tariefbepaling ingelig word.
17 Maart 2011