Voorstelle vir herstrukturering binne die Departement van Waterwese sal hopelik tot beter dienslewering lei, sê Agri SA.
Luidens ’n mediaverklaring meen die organisasie ’n langtermyn-visie en die gepaardgaande beplanning van waterhulpbronbestuur is “uiters noodsaaklik.” Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese, koppel glo ’n tydperk van 20 tot 30 jaar aan dié beoogde veranderinge.
Die minister het onlangs aangekondig dat onderhoudswerk aan waterinfrastruktuur sowat R15 miljard sal beloop, terwyl beleggings van sowat R573 miljard oor die volgende tien jaar nodig sal wees om nuwe damme te bou en infrastruktuur op te gradeer.
Die Tesourie het glo aangedui dat hy sowat 44% van dié koste sal kan finansier, so ’n tekort van sowat 56% van dié geld bestaan tans. “
Agri SA vertrou dat die verhaling van koste vanaf watergebruikers ooreenkomstig sosiaal-ekonomiese oorwegings, bekostigbaarheid en volgens erkende rekenkundige praktyke sal geskied,” sê mnr. Dan Kriek, voorsitter die organisasie se natuurlike hulpbronkomitee.
Deursigte waterprysstrategie
Die organisasie sê hy wag al ’n geruime tyd lank dat die departement vordering moet maak met die hersiening van sy waterprysstrategie. Die beoogde raamwerk en beleid vir watertariefverhogings sal hopelik ook daartoe bydra dat watertariefverhogings sal stabiliseer.
“Wat wel aan ’n wesentlike behoefte sal voldoen is deursigtigheid ten opsigte van die berekening van watertariewe, ’n situasie wat tot dusver grootliks afwesig was. Ons vertrou dat die ingryping rakende beter finansiële bestuur, waarna die minister verwys het, reeds hieraan aandag sal skenk,” aldus Kriek.
Die metode van berekening wat tans gebruik word, is baie vaag en die organisasie het die afgelope paar jaar weens dié feit daarin geslaag om watertariefverhogings in onderhandelinge met die departement te beperk.
Kritiek
Wat die minister se kritiek teenoor die landbou en die sektor se watergebruik betref, sê Kriek: “Dit is nie duidelik hoe dit tans waterbehoeftes en alternatiewe ekonomiese oorwegings strem nie en ons sal graag meer detail van die minister ten opsigte van hierdie siening wil hê.”
Verder meen Kriek die voorstel om groter magte aan die Watertribunaal te verleen om water en omgewingsoortredings te hanteer, is ’n gunstige stap.
23 April 2012