
Weens klimaatsverandering, wat skommelings in weerpatrone meebring, word dit al hoe moeiliker om die weer te voorspel.
Mnr. Cobus Olivier, voorspellingswetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê weervoorspellers sukkel om reënval te voorspel, want nie eens klimaatmodelle kan akkurate voorspellings maak nie.
“Die winterreënval is baie moeilik om te voorspel, veral wanneer modelle dit nie eers kan voorspel nie.”
Daar is wel ’n aanduiding dat die water-sisteem in die Suidelike Oseaan dalk reën in Augustus en September vir die Wes-Kaap kan bring, maar dit kan nie met vertroue voorspel word nie. Vir die Oos-Kaap is daar geen tekens van bo- of ondernormale reënval nie.
Waterkrisis
In die Wes-Kaap staan gemiddelde damvlakke op 29.4%, teenoor 57.7% verlede jaar. Volgens Olivier is die Wes-Kaap afhanklik van koue fronte wat reën bring.
“Die bietjies-bietjies reën wat veral in die Wes-Kaap voorkom, is gewoonlik die reën wat die land nie heeltemal bereik nie, maar wat by die suidelike kusgebiede deurkom,” sê hy.
Volgens mev. Jeanne Boshoff, woordvoerder van Agri-Wes-Kaap, is landboutoestande steeds onveranderd en het sommige plekke geen beskikbare weiding oor nie, veral in die ekstensiewe landbougebiede van die Weskus en die Sentraal-Karoo.
Boshoff sê al kry die gebiede goeie reën, gaan weiding maande vat om te herstel. “Graanprodusente het reën krities nodig en opgaardamme en plaasdamme is óf leeg óf op kritieke lae vlakke,” sê sy.
Die domino-uitwerking wat die droogte op die ekonomie van die landelike gebiede het, is ook 'n bron van kommer, want die droogte affekteer alle inwoners, nie net boere nie.
Beter in die noorde
In die Oos-Kaap is damvlakke gemiddeld 56.1% en 53.1% in KwaZulu-Natal.
In die res van die land gaan dit taamlik beter. Tans is die Noord-Kaap se damme 89,5% vol, Noord-Wes 85,2%, Vrystaat 80%, Mpumalanga 75,8%, Gauteng 87,8% en Limpopo 75,5%. Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by die landbousakekamer, sê die droogte het beslis ’n uitwerking op plaaswerkers en die breër gemeenskap.
Die Wes-Kaap dra sowat 22% tot die landbou se bruto binnelandse produk (BBP) by. Sowat 875 000 werksgeleenthede word in die landbousektor geskep, waarvan 25% uit die Wes-Kaap kom.
“As die weervoorspellings materialiseer, kan toestande verander. Intussen, moet ons wag en kyk wat gebeur,” sê Sihlobo