’n Weghol-veldbrand teister die Boland reeds drie dae lank met sterk winde wat dit moeilik maak om die brand te bestry.
Luidens ’n berig in Die Burger (10 Januarie 2012) het die brand Saterdagmiddag (7 Januarie 2012) naby Wolseley ontstaan.
Sowat 100 brandweerbeamptes van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die Drakenstein-munispaliteit en vrywilligers beveg sedert Maandagaand (9 Januarie 2012) die brand nadat dit in die rigting van Tulbagh versprei het. Vyf helikopters word glo gebruik om water op die vlamme te gooi.
Mnr. Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens, sê die brand woed aan albei kante van die Hawekwaberg in die Wolseley-omgewing.
“Die brand woed tans aan die Wolseley-kant en aan die kant van die Voëlvleidam.” Hy sê die brand het nog geen eiendom beskadig nie.
Skade op plase
Intussen sê mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, hulle is nie bewus van enige ernstige skade wat die brande aan plase aangerig het nie. “Dit is ’n baie onherbergsame deel waar die brand woed, wat dit baie moeilik maak om te bestry.”
Opperman sê brande in die distrik Ceres het wel sowat ’n week gelede skade op plase aangerig. Op spesifiek twee plase is groot skade aangemeld met tussen 300 en 400 kafbale wat afgebrand het, en talle heinings wat beskadig is.
“Ons wil ’n ernstige versoek aan inwoners en besoekers in die provinsie rig: Dit is die brandseisoen, moet asseblief nie sigaretstompies by vensters uitgooi nie, en maak slegs vleisbraaivure in beskermde gebiede waar dit toegelaat word,” aldus Opperman.
Bron: Die Burger
10 Desember 2012