
Die byna leë Kougadam se damvlak het teen 07:00 vanoggend op 11,19% gestaan ná goeie reën in die opvangsgebiede in die laaste twee weke van November. Twee weke vantevore was die dam ongeveer 6,7% vol.
Volgens me. Rienette Colesky, bestuurder van die Gamtoosbesproeiinsgraad, styg die damvlak normaalweg met 3 tot 4 persentasiepunte danksy reënval in die tydperk van Augustus tot Oktober.
“Hoewel dit na ’n verligting lyk, is dit basies net ’n herstelproses en ’n bevestiging dat die waterkwotas wat ons nou het, wel aan verbruikers gelewer kan word.”
Volgens haar beteken dit daar is tans genoeg water beskikbaar sodat die boere die 15% van hul waterkwota en die dorpies Hankey en Patensie hul 50% kan kry, al reën dit nie tot einde Junie volgende jaar nie.
“Die werklikheid is dat ons nou is waar ons verlede jaar hierdie tyd was.”
Kwotas
Boere moes vanjaar klaarkom met slegs 20% van hul normale waterkwota. Dit was die vyfde jaar agtereenvolgens van waterbeperkings. Weens die huidige lae vlak van die dam het die besproeiingsraad besluit om boere se watergebruik in die nuwe jaar verder te verminder tot 15% van hul normale kwota. Die dam het in Julie tot sy laaste vlak nóg, naamlik 3,89%, gedaal.
Die styging is te danke aan reën die afgelope tyd in die opvangsgebied in die Langkloof en Suurveld. Colesky sê dit is ook belangrik dat die hoeke, of die steil oppervlaktes van die berge van die opvangsgebied, spesifiek by Krakeel, reën gekry het.
“As groot hoeveelhede reën dáár val, beteken dit gewoonlik daar is afloop na die Kougadam.”
Dit is wel belangrik dat die hele gebied reën kry.
Volgens Colesky wil dit voorkom of die damme en riviere in die Langkloof ná die reën op goeie vlakke is. Dit beteken dat indien dit wéér reën, water die dam vinniger sal bereik.
Die besproeiingsraad doen tans daagliks werk en instandhouding om die vraag na water te bestuur.
“Ons het ’n hele afdeling wat net omsien na lekke en krake. Daar is werkers wat die skema daagliks patrolleer om te sien of alles reg verloop.”
Daar word gekyk na pype of kanale wat lek, en die vervanging en verbetering van swakker infrastruktuur. Alle water wat na enigeen, soos die kleiner dorpies of boere, gaan, word gemeet. Daar is tans 750 meters by 132 boere wat gelees word.
Grondwater
Boere kon ondanks die knelpunte steeds vanjaar oeste lewer. Volgens Colesky is baie grondwater ontwikkel om boorde en plase aan die gang te hou. Die grondwater is weens ’n hoë soutinhoud egter nie geskik vir landbougebruik nie.
“Dit is ’n tydelike oplossing en boere loop ’n groot risiko om die waterbronne te gebruik. Dit beteken jou boord kan vrek en jy verloor ’n groot belegging, of jy hou dit op ’n manier aan die gang met water wat nie geskik is nie, en hoop dit reën spoedig en die damme word vol sodat jy jou volle kwota kry.”
Volgens die Oos-Kaapse kantoor van die Suid-Afrikaanse weerkantoor word bogemiddelde reënval in die opvangsgebied van die Kougadam van Desember tot April verwag. Dit sal lei tot deurlopende invloei in die riviere en damme.