
Die beoordeling van die vierde Wêreld Jersey Kaas-toekennings het onlangs in Stellenbosch plaasgevind. Dit is die eerste keer wat dié kompetisie in Suid-Afrika aangebied is.
Kaasmakers van oor die wêreld is genooi om hul kase, van 100% Jerseymelk, in te skryf. Altesaam 66 kase van Nederland, Denemarke, Suid-Afrika, Amerika, Switserland, Italië, die Verenigde Koninkryk en Frankryk het in agt klasse meegeding.
Die Wêreld Jersey Kaas-toekennings is in 2008 deur die Wêreld Jerseyburo gestig en is die eerste toekenningskema waar ál die produkte van een ras kom. Volgens mnr. James Godfrey, sekretaris, het die konsep ten doel om die kwaliteit en diversiteit van produkte wat van Jerseymelk gemaak is, ten toon te stel en om verbruikers gewoond te maak dat Jersey sinoniem is met kwaliteit.
“Agri-Expo, aanbieders van die jaarlikse en wêreld-bekende SA Suiwelkampioenskap, het die kennis en stelsels ontwikkel om te verseker dat aan die hoë standaarde van hierdie kompetisie voldoen word,” sê mnr. Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo.
Die goue medaljewenners in elke klas ding mee vir die gesogte title van “Wêreld se beste Jerseykaas”. ‘n Addisionele kategorie om die “Beste gebruik van die Jersey-handelsmerk” te bepaal, is ook beoordeel. ‘n Toekenning wat in hierdie kompetisie gewen word, veral ‘n goue medalje, het ‘n regstreekse impak op kaasprodusente se bemarkingsgeleenthede en verhoogde verkope.
Volgens mnr. Gielie de Kock, Jersey SA se raadslid in die Wes-Kaap, “is die Jersey koei bekend as die ‘kaas produksie koei’ as gevolg van haar hoë melk vastestowwe. Dit beteken dat produsente en prosesseerders tot 20 persent minder rou melk per kilogram geproduseerde kaas verwerk en vervoer.”
Die wenners sal by die nasionale Jersey gala-aand en prysuitdeling op 19 September 2014 tydens die Agri Megaweek in Bredasdorp aangekondig word.