Mnr. Christiaan Vercueil, landbou-ekonoom by Graan SA, meen egter dat plaaslike produsente nie die volle voordeel hiervan sal geniet nie.
“Hoewel die ideaal sou wees dat die laer pryse direk oorgedra word, is die werklikheid anders. Suid-Afrika se insetpryse volg sowat twee maande agter internasionael prysneigings en dit, tesame met ’n wisselkoers wat al hoe meer negatief is, beteken dat produsente nie die verlaging plaaslik werklik sal voel nie.”
Verceuil sê die swakker rand beteken dat grondstowwe teen hoër pryse ingevoer moet word, wat laer internasionale markpryse uitkanselleer. Dit gaan nie maklik wees om die rand te laat verstewig nie. “Die vertroue in die ekonomie moet eers herstel word. Dit word nie gedoen deur jou uitvoerende hoof van Eskom af te dank nie en om ook nie rentekoerse se stygings te rem nie. Ons sal moet konsentreer op die produksie van produkte binnelands, dit uitvoer, buitelandse valuta verdien, infrastruktuur verbeter om ons produksie te verhoog en die resep herhaal. Dit gaan egter nie maklik binne die volgende vyf jaar gebeur nie,” sê Verceuil. Onveranderde of selfs hoër insetkoste blyk dus die Suid-Afrikaanse landbou se voorland te wees.