
In die 16de plaasaanval in die Vrystaat vanjaar, is 'n plaaswerker van die distrik Hertzogville so erg aangerand dat al haar tande uitgeslaan is.
Dié aanval het op mnr. Sarel Bornman se plaas Jakkalsdraai plaasgevind. Bornman is Saterdagnag om 01:00 na sy skaapkrale om veediewe te verjaag. Hy loop die afgelope drie maande bykans weekliks onder veediewe deur. Mnr. Jan Makgetla en sy vrou, Mogobo, het Bornman bygestaan om die veediewe te probeer vastrek.
Hulle kon egter nie die veediewe vang nie en het na hulle huis teruggekeer. Die Makgetlas is tuis deur vier verdagtes ingewag. Jan is met 'n mes gesteek en erg aangerand, terwyl Mogobo se tande uitgeslaan is. Hulle is vir behandeling na 'n plaaslike hospitaal en is ontslaan om by die huis te herstel.
Bornman is hewig ontsteld oor die aanval. “Hoe doen 'n mens dit aan iemand anders? My mense is erg verniel. Jan sê vir my hulle het hom só geslaan en geskop dat hy gedink het dat hulle hom gaan doodslaan,” sê hy.
Plaaswerkers loop deur
Volgens Vrystaat Landbou is plaaswerkers in die helfte van die plaasaanvalle wat vanjaar in die provinsie plaasgevind het, beseer. Die ander was op boere, waarvan een 'n opkomende boer.
Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, sê plaasaanvalle beteken mense is deesdae bang om op plase te woon en werk.
"Ons rig weer eens ’n versoek aan die Regering om in te gryp in die situasie om alle lede van landelike gemeenskappe veilig te hou deur daadwerklike stappe, soos in die landelike beveiligingsplan uitgestippel, aktief te implementeer en vol te hou daarmee.
"Aanvalle op boere en werkers bedreig voedselsekerheid en werksgeleenthede op plase. Werkers raak toenemend bang om op plase te woon, en wil eerder op dorpe gaan woon en daar werk, wat druk vir werksgeleenthede en armoede op plattelandse dorpe verhoog.”
Wees versigtig
Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidskomitee, waarsku dat mense versigtig moet wees wanneer diefstal op plase voorkom.
“Boere moet paraat wees vir sulke voorvalle, en ook hulle werkers oor dit sensiteer. Rus jou werkers toe met kennis en toerusting om te kan deelneem aan die plaaslike plaaswagstelsel en om jou en die stelsel ingelig te hou oor verdagte optrede, persone of voertuie op plase.”