Net vier uit tien volwasse Suid-Afrikaners het ’n werk. Dit is die laagste syfer van enige land buite ’n oorlogsone, sê mnr. Mike Schüssler, stigter van die ekonomiese navorsingsinstelling www.economists.co.za.
“Ons kan nie 90 miljoen Suid-Afrikaners hê wat nie werk nie en wat deur 15 miljoen werkendes ekonomies gedra word nie,” sê Schüssler. “In enige ander land sou dít tot ’n revolusie gelei het. Trouens, talle lande het gerebelleer met minder rede as dít.”
In Suid-Afrika betaal net een uit elke drie Suid-Afrikaners belasting. Schüssler meen egter nie dat hoër maatskappybelasting die antwoord is nie. “Ondernemings is reeds oorbelas. Die Regering moet eerder die belasting op toegevoegde waarde (BTW) verhoog.”
Werkskepping belemmer
Besluitnemers wat doelwitte op kort termyn nastreef het die lewe vir Suid-Afrikaanse ondernemings moeilik gemaak en werkskepping belemmer.
“Suid-Afrika het nie die afgelope paar jaar vooruitgegaan in die wêreldekonomie nie, want ons het uit ons pad gegaan om die lewe vir ondernemings te bemoeilik,” sê Schüssler.
“Indien die land nie uitvoer wil verloor nie, sal iets gedoen moet word om administrasiekoste in bedwang te bring. Die hoë koste om argumente oor lone te besleg, het ook die ekonomie geknou.”
26 September 2011