
Die reënskade in die Wes-Kaap beloop sowat R328 miljoen.
Dit is volgens ’n voorlopige opname van die Wes-Kaapse departement van landbou en landelike ontwikkeling, maar dit kan nog ses weke neem om die skade behoorlik te bepaal, sê die departement.
Die departement en Agri Wes-Kaap werk tans saam aan die opname, en sê weens die nat toestande en die verspoeling van talle brûe en paaie, is dit vir baie boere onmoontlik om die presiese skade op hul plase te bepaal.
Onversekerde skade
Die onversekerde skade in die provinsie beloop tans R131 miljoen, terwyl die versekerde skade op R197 miljoen geskat word.
Volgens die departement sluit dié skadebepalings die verspoeling van bewerkte grond in, en moet op die skade gelet word ten opsigte van die beplanning van rivierbeskerming en die invloed daarvan op bewerkte landerye.
Vreemde verskynsel
Baie reën in die Karoo is ’n vreemde verskynsel, maar selfs dié distrik het onder vloede deurgeloop. Mnr. Christoff Cloete se plaas, Doornkloof, in die Herbetsdale-distrik is een van die plase wat onder water was. Kyk hier na foto’s van die plaas en die verspoelde boorde asook van die Langtourivier.
Volgens die opname word die voorlopige skade in die Karoo op sowat R115 miljoen bepaal. Opnames in die distrikte Oudtshoorn en Uniondale dui op onderskeidelik R56 miljoen en R42 miljoen se skade, terwyl die sentrale Karoo se skade tans op R17 miljoen geskat word.
Die grootste skade, R14 miljoen, in die sentrale Karoo is in die Beaufort-Wes-distrik aangeteken.
15 Junie 2011